Vakansietyd!

Wanneer ek terugdink, is vele kosbare kleintyd herhinneringe gekoppel aan vakansies. Die vakansies waar ouma Ria saam was, ‘n besoek aan die Paul-Kruger huis… Rustenburg-kloof… goeie ou Hartenbos… duiwe voer op Kaapstad stasie en deur Goue Akker loop terwyl ons wag vir oorklim na die volgende trein… ‘n Herhinnering wat uitstaan is in my standerd 5 jaar, ek en my pa speel tydens die vakansie baie gereeld met ‘n frisbie op die strand. ‘n Verhouding van diep vertroue word vasgemessel, ‘n verhouding wat ‘n leeftyd vir my baie spesiaal sal bly.

Hoe heerlik om nou self ouers te wees, en weer nuwe memories saam met Liefkind te maak. My kind vol pret en vreugde, my skoenlappertjie-kind, my mooiste blommetjie. Ek en Liefman het ons harte op die ongekunstelde, ongerepte natuurskoon van die Oos-Kaap verloor, en dit word vanselfsprekend ons volgende vakansie bestemming. Ons gaan die eerste paar dae tuis in ‘n piepklein stand-dorpie, en moet 10km ry om melk en brood te gaan koop, beter word dit nie. Die geluid van branders wat breek, die reuk, die sproei, die wye oseaan vlak voor die huis. Absoluut perfek… Die eerste oggend word ek douvoordag wakker en verras my HemelPa my met ‘n asemrowende sonopkoms oor die see. In my oë die grootste wonder nog. Ons dae word gevul met skattetogte oor rotspoele, Liefkind versamel ywerig skulpe, see-sterre en -pampoentjies. Sy skrik haar boeglam vir ‘n yslike krap wat in een van die vlak rotspoele skuil. Een oggend hoor ek ‘n gil vanaf die stoep, toe ek ondersoek instel is dit Liefkind wat buite haarself van opwinding na ‘n skool dolwyne wys. Die volgende dag sien ons hulle weer, ‘n mooi skool, sewe, ag, nege dolfyne, in groepe van twee en drie, dit is vir my ‘n groot hoogtepunt, dolfyne roer iets baie diep en mooi in my.

Ons gaan vir lang wandelings op die strand, ek gaan draf ‘n keer of wat. Liefkind skaf ‘n dolfyn-bodyboard aan met oupa Han en ouma San se vakansie geldjie en maak die dierbaarste surfer-chick nog, pienk baaipakkie, branderplank, amper groter as sy, onder die arm vasgeknyp, klouterend oor die rotse.

Na ‘n paar dae van sielsalige rus en vrede ry ons ‘n paar kilometer verder na ‘n klein vakansie-oord met ‘n jungle gym, ‘n swembad, en ‘n paar medevakansiegangers, maatjies vir Liefkind. Sy is in haar element.

Op ‘n reëndag neem ons ‘a trip down memory lane’, ons ry na ‘n klein kusdorpie waar Liefman ‘n paar jaar gelede sy veertigste verjaardag gevier het. Die dag is vol onhou jy’s… Nou het Liefkind bygekom, ons voel skatryk en geseënd. Ons eet by ‘n pannekoek huis wat uitkyk oor die see, gaan koop ‘n sjokoladekoek en gaan eet dit in die piekniekplek van ‘n volgende kusdorpie. Ons maak memories, sê Liefman.

Op ‘n ander dag ry ons na die naaste stad se akwarium. Ons verkyk ons aan piepklein see-perdjies en reuse see-skilpaaie. Ons sien hoe lyk phirannas en platannas. Tot Liefkind se vreugde is daar ‘n tenk vol Nemo en Dori vissies. Liefkind kry geleentheid om oor ‘n pikkewyn se lyfie te streel en ons verkneukel ons in blinknat robbe-lyf mannewales tydens hul vertoning.

Ons tydjie by die see kom ten einde, ons eggo Liefkind se versugting, ‘Kan ons nie maar hier bly nie, ek het gesien hier is ‘n skool…?’. Ek en Liefman droom oor eendag aftree in ons eie huisie by die see.

Tot dan beplan ons aan ons volgende kuiertjie by die see.

This entry was posted in Liefde, Liefkind. Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar