LEWE

Die afgelope paar weke hoor ek van drie jong persone wat sterf. Hoe ouer ek word, hoe meer besef ek hoe subjektief ouderdom is, want hoe ouer ek word, hoe verder skuif die grens van waar ‘oud’ is. Hoe dit ok al sy, hierdie drie persone het nog baie gehad om voor te leef. Dit is twee dames wat bekendheid in vermaarklikheidskringe verwerf het, beide jonger as dertig jaar, en kort daarna ‘n geliefde veertigjarige psigiater van ons stad. Die gedagte aan die persoon wat die tragiese nuus aan sy ag-jarige tweelingseuns moet oordra, bly by my spook. My hart krimp ineen vir ‘n vrou wat nog gans te jonk is om ‘n weduwee te wees. In die koerantberig oor sy dood beskryf sy ma hom as ‘n ‘man van God’.

Ek besef net weer hoe vlietend hierdie lewe kan wees. Vandag hier, more weg. Ons het so min beheer, ‘n skietongeluk, ‘n motorongeluk, ‘n motorfietsongeluk, en die lewe glip deur jou vingers. Ek kom opnuut diep onder die indruk van hoe belangrik dit is om verantwoordbaar te leef. Ek het ‘n grootse begeerte om werklik ‘n verskil te maak terwyl ek leef. Ek wil my tyd op aarde laat tel, ek wil onthou word nadat ek weg is. Ek wil ‘n nalatenskap agterlaat wat ander sal bly seën.

Onlangs lees ek op ‘n sosiale netwerk dat, wanneer ons geestelike lewe in orde voor God is, ons seëninge vrystel aan ons nageslag, tot in die derde en vierde geslag. Ek hou van die gedagte. Dit is soos die verhaaltjie van ‘n sendeling wat onder ‘n afgeleë gemeenskap gaan werk. Hy deel met die inwoners oor Jesus, en hulle onderbreek hom na ‘n tyd, “Ja, ons ken hom, hy was hier, kom ons gaan wys jou waar is hy begrawe”. ‘n Sendeling wat lank gelede onder die mense geleef het, het dit met soveel oortuiging gedoen dat hulle hom as Jesus self aangesien het. In dieselfde lyn hoor ek eenmaal ‘n preek wat ‘n onuitwisbare indruk op my maak. die tema dat ons ‘druppels God’ vir ander moet wees.

By my werk het ek die teenoorgestelde al so baie maal gesien. ‘n Absolute steunpilaar verlaat die diens, almal wonder benoud hoe sy/haar leemte gevul kan word. Maar tog, twee jaar later is die persoon slegs ‘n vae herinnering. Niemand is onvervangbaar nie. Kan ek daarvan aflei, dit is nie wat ons doen wat tel nie, maar wie ons is? Dit is soos die bekende stelling dat ek nie ander se woorde teenoor my vir lank gaan onthou nie, maar wel hoe hulle my laat voel.

Wanneer ek my oë vir die laaste keer op hierdie aarde toemaak, wil ek dit doen met vrede in my hart. Ek wil sterf met die vaste wete dat ek voetspore in menseharte laat wat nie oornag deur die wind weggewaai sal word nie.

This entry was posted in Inspirasie, Mymeringe. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s