Parkie-terapie

My pre-teen voel blou. Hoewel ek terdeë besef dat ‘n emosionele wipplankryery weens hormonale skommelinge normaal is tydens die tienerjare, weet ek ook dat die impak van vars lug en oefening nie onderskat moet word nie. ‘Kom ons stap parkie toe, ek is lus vir swaai’. Sy stem halfhartig in. Ons het skaars ‘n honderd meter gestap, toe erken sy glimlaggend. ‘Ek was depressed, maar ek voel nou sommer beter!’. Ek gebruik die kans vir ‘n sedeprekie: ‘Jy moet altyd onthou, as mens so af voel, het jy twee keuses. Of jy doen iets wat jou nog dieper in die swart gat laat klim, of jy doen iets wat jou laat uitklim na die lig toe. Ek het geweet die vars lug en oefening sal jou beter laat voel’.

By die parkie swaai sy vir ‘n rukkie langs my, maar kla dan dat haar bene nou te lank is, en teen die sementblad kap wanneer sy swaai. Sy bestorm dus die glyplank. Soos haar gewoonte van kleintyd af is, gebruik sy nie die trappe nie, maar klouter op teen die bakgedeelte van die glyplank. Sy gly jillend van plesier af, en herhaal die oefening oor en oor. Die son begin sak en ek stel voor dat ons huiswaarts keer. Ek neem doelbewus ‘n ompad, om die genieting so lank as moontlik uit te rek.

‘Weet jy’, vertel ek, ‘ek voel soos daardie spoorsnyer wat saam met die jagter geloop het. Op ‘n stadium gaan sit die spoorsnyer onder ‘n boom. Die jagter is gefrustreerd daaroor, want die bok is besig om al hoe verder weg te vlug. Maar die spoorsnyer verduidelik dat hulle so vinnig geloop het, dat sy siel agter geraak het by sy liggaam. Hy moet nou eers wag dat sy siel sy liggaam inhaal. Ek voel dat my siel ook in die vakansietyd weer tyd het om my liggaam in te haal’. Dit grief my geweldig, die dolle pas waarteen ons gedurende kwartaaltyd moet jaag. Maar ek is ook dankbaar vir die vakansie-oase in die woestyn, om net weer te wees, mekaar van voor af te geniet. Wat ‘n weelde.

Ek verduidelik voorts vir Liefkind dat, hoe lief ek ook al vir haar Pappa en vir haar is, dit soms vir my nodig is om alleentyd te hê om my batterye te herlaai. My ‘Kreatiewe Inkleurboek vir Volwassenes’ werk oortyd hierdie vakansie – dit is ontspanning uit die boonste rakke. ‘Jy moet vir my sê wanneer jy alleentyd nodig het’, versoek ek my dogter. Maar die armpie glip vertrouend om my middel terwyl sy sê: ‘Nee, ek moet baie tyd saam met Mamma hê. Want Mamma leer my hoe om ‘n vrou te wees’.

Ouerskap, besaai met kosbare oomblikke soos hierdie. Ma-wees, die beste titel in die wêreld.

This entry was posted in Liefkind, Ouerskap. Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar