Fondament

Ek het as jongeling reeds Dalene Matthee se boek, ‘Fiela se kind’ gelees en toe al geweet dat dit ‘n besondere verhaal is. Maar nadat ek die vertolking daarvan ‘n week of wat gelede vir die eerste maal as volwassene op die planke gesien het, is ek getref deur die dieper nuanses van die verhaal, wat as kind by my verbygegaan het.

Die verhaal van Fiela se kind bewys ‘n paar algemene vooropgestelde idees as wanpersepsies:

— ‘AndersAsEk’ ouers kan ‘n kind nie so goed opvoed as ‘SoosEk’ ouers nie. Of dan, ‘n kind is altyd beter daaraan toe by ‘SoosEk’ ouers.

— ‘n ‘SoosEk’ mens neem aan dat ander ‘SoosEk’ mense vanselfsprekend ook goeie mense is, met morele waardestelsels.

— Bloed is altyd dikker as water.

In Fiela se kind word elkeen van bogenoemde stellings uitgedaag. Die verhaal bewys dat dinge nie altyd is soos wat dit met die eerste oogopslag lyk nie. Dat jy soms dieper moet delf om by die hart van ‘n saak uit te kom.

Dan is daar ‘n suggestie in Fiela se kind waarvan ek baie hou. ‘n Kind wat in sy vormingsjare met liefde en deernis omvou is, ‘n kind wat in ‘n gesonde gesinsstruktuur en goeie morele waardes grootgemaak is, hetsy dit in ‘n SoosEk gesin of ‘n AndersAsEk gesin is, word ‘n volwassene vir wie ‘n sterk fondament gelê is. Selfs as sou fel storms later in sy lewe, ook in die onstuimige tienerjare, om so ‘n kind se kop losbars, sou dit hom nie knak nie. Ja, so ‘n kind mag vraagstukke oor sy identiteit in hom ronddra, so ‘n kind mag swaarkry en innerlike worsteling beleef. Maar so ‘n kind sal heel aan die anderkant uitkom. So ‘n kind sal terugkeer na sy wortels. Voortbou op die fondament wat kleintyd vir hom gelê is.

Ek weet nie of daar al navorsing oor gedoen is in die werklike lewe nie. Maar ek hoop dat dit werklik so is. Dat ‘n goeie opvoeding in ‘n kind se vormingsjare, hom ‘n leeftyd lank sal dra. Ek weet voorts dat God se genade so groot is, dat ook die kind wie se vormingsjare nie ideaal was nie, in ‘n steunpilaar vir ander kan ontwikkel tydens sy volwasse jare. Dit is deur die eeue oor en oor bewys dat dit juis die storms van die lewe is wat ons daartoe dring om aan ander ‘n helpende help te veleen. Dat die beginsel van ‘the wounded healer’ besonder effektief is, want wie is beter toegerus om te help, as juis jy wat ‘n paar slukke van daardie bitter brousel geneem het. Beloof die Here dan nie in Romeine 8:28 dat Hy ALLES wat die lewe na my kant toe sal gooi, tot my beswil sal laat meewerk nie? Dit is maar een van vele beloftes in die Bybel waarvan ek die waarheid al baie maal beleef het. God is goed, en dit is veilig om op Hom te vertrou. Ek weet dit, ek glo dit met my hele hart. Dit is veilig om op God te vertrou.

‘God is lining things up for you. He always has been and He always will’. (Bron onbekend)

Advertisements
This entry was posted in Mymeringe. Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s