Puntenerig

‘Hou jou kloue van my goed af!!’. Dit is die aanmerking wat een van my hoërskoolvriendinne se ma haar toegesnou het toe die tienermeisiekind besig was om haar ma se haarborsel te gebruik, het my toentertydse vriendin betraand vertel. Almal in die vriendekring het haar jammer gekry omdat sy so ‘n heks vir ‘n ma het. Maar toe ek nou een oggend op ‘n knap tydskedule my grimering voor werk wil aanwend, en my grimeerkwas is – weereens – soek, het ek begrip vir my vriendin se ma gekry. Ek het die spesifieke oggend – weereens – in my tienerdogter se kamer gaan soek. Sy het skaapagtig die grimeerkwas aan my oorhandig, die juiste kwas wat ek eksklusief gebruik om my beidge oogskadu mee aan te wend. Die juiste kwas wat nou vol helderrooi wangblosser daar uitgesien het. Ek het ‘n snydende aanmerking met moeite teruggebyt, en my tienerdogter herinner aan die feit dat sy maandeliks ‘n bedrag vir sakgeld ontvang waarmee sy veronderstel is om haar eie benodigdhede aan te skaf. Ek het haar voorts vermaan dat, wanneer sy iets uit my slaapkamer neem, sy eers my toestemming daarvoor moet verkry, en dat sy dit na gebruik daarvan, moet terugsit op die presiese plek waar sy dit gekry het. Die tienerkind het ‘n argelose ‘sorry ma’ laat hoor, wat my nie juis beter laat voel het nie. Ja nee, my vriendin se ma het waarskynlik een oggend voor werk vir die soveelste maal haar haarborsel in haar tiener se slaapkamer opgespoor, en haar geduld, net daardie een keer, heeltemal verloor. Dit gebeur soms met die bestes in die mamma-klub.

Ek is verseker soms ‘n pyn vir my huismense, want ek kan erg punterig raak oor onbenullighede wat min of gener waarde in die groter prentjie het. Dit is egter vir my belangrik, omdat ek voel dat om georganiseerd te leef, my lewe makliker maak en die afhandeling van take vergemaklik en bespoedig. Dit sluit dinge in soos om die botteltjies in my speseryrak volgens die kleur van die prop te sorteer, soort by soort. So ook om items in my klerekas volgens doel te sorteer, sporthempies bymekaar, t-hemde bymekaar, bloesies bymekaar. Dit maak mos logies sin, dan nie? My huishulp verstaan na al die jare in my diens egter steeds nie my eenvoudige sorteerstelsel nie, sodat ek na wasdag telkens my hangkas moet herorganiseer. Ek het ook ‘n streng stelsel waarvolgens ek skottelgoed was, en as jy my nou regtig wil omkrap, moet jy ‘n item in die wasbak plaas terwyl ek skottelgoed was. Die messe word nie saam met die borde gewas nie, so eenvoudig soos dit! Koffiebekers in die kas, en teekoppies in ‘n skinkbord, se ore moet in dieselfde rigting gedraai wees – daar is ‘n regte manier om elke ding onder die son te doen.

In ‘n lang relaas kla ek nou die dag by ‘n werksmater oor hoe ‘n tandepastabuis met ‘n duik in die middel, of ‘n toiletrol wat nie puntjie-na-buite hang nie, my grensloos irriteer, en oor hoe ek eendag ‘n huis met my eie badkamer begeer. Waarop hy kopskud en my sagkens daaraan herinner dat ek versigtig moet wees om nie die menseverhoudings in my gesin, en die algemene gevoel van vrede en harmonie in my huis, deur beuselagtige voorkeure te versteur nie.

Ek skat hy het ‘n punt beet – maar ek sal moet seker maak dat daardie punt op presies die regte plek is!

; )

Advertisements
This entry was posted in Ligweg. Bookmark the permalink.

1 Response to Puntenerig

  1. In hierdie huishouding gaan jy binne een uur stapelgek wees 😀

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s