Geoefende tong

Ek is tans besig met ‘n langtermynprojek om die Bybel vanaf Genesis tot Openbaring deur te lees. Die projek vind sy oorsprong in ‘n omgeegroepbyeenkoms, toe ‘n vriendin deel dat sy die Bybel al drie maal deurgelees het. Ek het voor my siel geweet dat ek haar stelling nie kan na-sê nie. Ek lees wel elke dag my Bybel, maar hier-en-daar, hot-en-haar, rond en bont soos die bevlieging my die dag pak – sonder plan of struktuur.

Daardie selfde aand het ek my Bybel by Genesis 1 oopgemaak, en ek sal nooit weer op ‘n ander manier as sistematies, boek vir boek, hoofstuk vir hoofstuk Bybel lees nie. Dit is nie ‘n reël nie, en ander Christene hoef dit verseker nie so te doen nie, maar dit werk vir my.

Ek vorder maar stadig met my Bybel-deurlees projek, maar dit is in die haak. Tyd is aan my kant. Ek wroeg deur sekere boeke, net om weer deur ander boeke te vlieg. Sommige boeke het ek baie maal vantevore gelees, ander lees ek nou sweerlik vir die heel eerste maal.

In die proses het ek wonderlike juweeltjies ontdek. Soos die onlangse oggend wat Jesaja 50:4a uit die gelese gedeelte spring en knus teen my hart kom nestel.

‘Die Here Here het My ‘n geoefende tong gegee, dat Ek kan weet om die vermoeide te verkwik met woorde.’

Laat in een werksdag deel ek oor die vers met my vriend wat nader is as ‘n broer. ‘Jy is geroep daarvoor’, is sy reaksie. ‘Hoe bedoel jy nou?’, vra ek half verward. ‘Want dit is wat jy doen’, antwoord hy eenvoudig.

Sy woorde kom lê sag in my hart. Ek en hierdie mater kom ‘n halwe leeftyd saam. Ons weet meeste wat daar van mekaar te wete is, en deel in ‘n hegte vriendskap wat geskoei is op wedersydse respek, deernis, toegeneëntheid en die kosbare geskenk van onvoorwaardelike aanvaarding van die ander se menswees.

Ek weet dat hy bedoel wat hy sê – dat dit sy eerlike waarneming oor my Bybelvers is. En hy is reg. Hoewel die voornaamwoorde in die vers in hooflettervorm op die persoon van Jesus dui, word die woorde in die vers my innige gebed.

Ek mag in my diepste menswees ‘n introvert wees, maar ek is lief vir mense, met veral ‘n hart vir emosioneel verwondes.

Mag dit so wees dat my woorde opbou en stig, heel en vrede bring. Feilbaar is ek in my menswees en oordeelsfoute sal ek maak. Te haastig sal soms ook maar mý woorde kom, sodat dit kwes en tot misverstand lei.

Maar tog, my strewe om ‘n verskil te maak op hierdie aarde, om my Heer se koninkryk te bou in mense se harte – ook en veral deur die woorde wat ek uiter – daardie begeerte lê diep, en is opreg.

Advertisements
This entry was posted in Hartsdinge. Bookmark the permalink.

2 Responses to Geoefende tong

  1. Toortsie sê:

    Weet jy, in 2005, dink wk, het ek besluit om my Bybel van vior ba agter te lees. Elke liewe woord. Ek dink dit het 3 jaar geneem. Sedertduen doen ek dit steeds. As ek by Openbaring 22 kom, begin ek weer by Gen 1. Soms kees ek die Nuwe Testament nog ‘n keer voor ek weer heel voor begin.
    Dit was een van die beste besluite wat ek ooit kon vind. Ek verstaan vir God en die Bybel soveel beter. Dit was kewensveranderend.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s