Landloop-geselsies

Op pad terug huis toe vanaf die eerste landloopliga van die seisoen, waaraan ek en my veertienjarige dogter albei deelgeneem het, deel sy haar waarnemings, soos gevorm gedurende die wedloop, met my.

‘Om lang afstande te kan hardloop, het ‘n mens determinasie, dissipline en krag nodig. ‘n Mens moenie teen ander atlete kompeteer nie, want dan begin jy teen daardie deelnemer se pas hardloop. Dit maak ‘n mens later moedeloos! ‘n Mens kompeteer eintlik teen die stemmetjie in jou kop wat sê jy moet tou opgooi omdat jy moeg word. Dan sê ‘n mens vir daardie stemmetjie: ek kán!’

‘Voor die wedloop het ek vir Jesus gevra om my te help’, vervolg my dogter. ‘En Hy het! Eintlik is Jesus die petrol in my bloed wat my aandryf.’

My kind is nog lank nie klaar gesels nie. ‘Langafstandhardloop leer ‘n mens dat jy eintlik tough is. Dit help in die lewe ook, want as ‘n mens iemand nodig het wat tough is, dan weet jy, jy het jouself. Soms sê my maats by die skool dat ek party dinge nie sal kan regkry nie, omdat ek klein gebou is. Dan word ek baie kwaad, want ek is sterker as wat hulle dink!’

‘Ja, maar jy moet versigtig wees’, maan ek haar met ‘n lag in my stem. ‘Want een dag het jy ‘n goeie wedloop en glo jy, jy kan enigiets regkry. Maar net die volgende keer het jy ‘n aaklige wedloop, wat jou gelyk met die grond maak.’

‘Dit is amper soos wat dit met die pad na die kruis werk’, word my tienerkind filosofies. ‘Daar is bergtop-ervarings om jou moed te gee. En dan is daar weer diep-vallei ervarings om jou nederig te hou.’

Ek dink terug aan haar landlooponderwyser se woorde, flussies langs die landloopbaan. Hy het gesê dat my dogter soos ‘n langafstandatleet lýk, en vir afstande veel verder as die vier kilometer om die landloopbaan gebou is. Hy het ook opgemerk dat dit duidelik is dat sy die belewenis baie geniet. Ek is dit met hom eens. My dogter is nie mal oor span-gebasseerde sportsoorte van ‘n aggressief kompeterende aard nie. Maar van langafstandhardloop hou sy sommer baie.

Ons nader die huis, en my dogter sluit die gesprek af met die volgende woorde. ‘Om by Ma te wees, is soos om saam met my tienervriende uit te hang. Ma het net meer wysheid. Ma is liefdevol, maar Ma is ook cool.’

Vir ‘n groter kompliment kan geen moeder vra nie. Ek is diep dankbaar vir die voorreg om fiks en gesond te kan wees sodat ek hierdie tipe belewenisse met my tienerkind kan deel. Dit vorm gommetjies wat my en haar verhouding oneindig innig en spesiaal maak.

Advertisements
This entry was posted in Hardloop. Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s