Seisoene

Onlangs word ons tienerdogter na ‘n sosiale geleentheid genooi, en ek en Liefman gebruik die kans om ‘n alleentydjie vir net ons twee te skep. Ons arriveer vroegaand by ons gunsteling restaurant, en kies ‘n tafel buite in die tuin om die soel aandluggie ten beste te benut.

By ‘n lang tafel naby ons sit verskeie ouerpare met ‘n swetterjoel kindertjies wat om hulle rondspeel. Daar is ‘n tamaai, heldergroen verjaardagkoek in die middel van hulle tafel. Op ‘n stadium pluk twee tjokker-seuntjiekinders hul broekies af en piepie op die gras reg langs ons tafel. ‘Dankie tog ons is verby daardie stadium van ouerskap’, giggel ek in Liefman se oor.

Ek het ‘n paar weke gelede my sewe en veertigste verjaardag gevier. Ek het nie ‘n krisis met die middeljare nie, inteendeel – ek beleef tans van die beste tye van my lewe. Ek is twintig jaar lank al getroud, en geniet my huwelik met my man, wat ook my beste vriend is. Ek deel ‘n besonder innige verhouding met my lieflike tienerdogter. Ons doen graag meisie-dinge saam en geniet mekaar se geselskap. Toe sy klein was, het ek haar geleer hoe om haar skoenveters te knoop en om haar mond toe te hou wanneer sy eet. Nou leer ek haar die fyner kunsies van vrou-wees, en waarvoor om te kyk wanneer sy besluit of sy haar ‘n seunsmaat se aandag gaan laat welgeval. Wat ‘n voorreg om my dogter op haar lewenspad te mag begelei.

Ek koester my huidige lewensfase. Met my swaer se onverwagse dood ‘n paar jaar gelede, het ek terdeë besef hoe onvoorspelbaar die lewe is. Die een dag nog dolgelukkig, die volgende dag in ‘n donker plek van wanhoop en verdriet.

Ek beleef my veertigs as ‘n wonderlike seisoen. Daar is ‘n tevredenheid, ‘n genoegsaamheid in my hart. Ek is ontvanklik vir die vreugde wat die klein dingetjies in die lewe bring. ‘n Sonsondergang, ‘n mooi wolkformasie, herfsblare en die uitbundige kleure van blommetjies in my tuin. Ek is lief vir die Here en ontvang Sy liefde deur die omgee van die mense in my lewe.

Ek koop die geleende tyd saam met my bejaarde ouers en skoonouers uit. Ek vang elke dag saam met my tienerdogter in my hart vas – die leë nes wag. Ek geniet hegte vriendskappe met my werksmaters. Eendag gaan een na die ander op pensioen en spat ons almal uitmekaar. Ek is lief vir, en bederf my man; en ek bid vuriglik dat ons twee saam stokoud sal word.

Ek besef dat daar waarskynlik in my toekoms veranderinge wag wat my lewe gaan ontwrig en my op ‘n pad van aanpassing gaan plaas. Dit is onvermydelik en nou maar eenmaal hoe die lewe werk.

Maar vir vandag, in my hier en nou, is die lewe goed en mooi. Ek is vervuld en gelukkig – vir meer as dit durf niemand vra nie. Dit vul my hart met ‘n nederige dankbaarheid en verootmoediging teenoor die Here.

Advertisements
This entry was posted in Mymeringe. Bookmark the permalink.

1 Response to Seisoene

  1. ekmyselff sê:

    Jy klink op n goeie plek en tevrede met jouself en dinge om jou, wonderbaar.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s