Al weer vandag

Ek is besig met huistakies terwyl my gesin na ‘n fliek op televisie kyk. Ek vang genoeg van die storielyn om tóg ingetrek te word.

‘Groundhog day’ is ‘n fliek met Bill Murray en Andie McDowell as hoofkarakters. Murray se karakter, Phil, beleef dieselfde dag, ‘groundhog day’, oor, en oor, en oor. Hy is aanvanklik mateloos gefrustreerd daaroor, des te meer omdat dit nie ‘n besonder goeie dag is nie. Later maak hy ‘n kopskuif, en begin om elke herhaling van die dag te gebruik om foute wat hy gemaak het reg te stel, en geleenthede wat hy laat verbygaan het, te gebruik. Dit het so ‘n positiewe uitwerking op sy karakter, dat hy ten einde laat die guns wen van Rita, teenoor wie hy tere gevoelens koester. Oplaas leef hy die dag perfek, sonder om ‘n voetjie verkeerd te sit, en slaan ook sý kalender ‘n blaadjie om.

Ek vind die gedagte fassinerend, sodat ek daaroor met my huismense deel. Ek sal dit verpes om dag na dag presies dieselfde dag te moet oorhê, omdat ek baie vinnig verveeld word. Maar sou ek dit móés doen, sou ek ‘n gewone Saterdag in die lewe van my gesin kies. Ons word dan vroeg wakker en neem saam aan ons plaaslike Parkrun deel. Daarna gaan eet ons ontbyt by een van ons gunsteling restaurante. Later in die dag kuier ons by familie – ‘n gewaarborgde lekkerte. Ons sluit die dag gewoonlik af met ‘n vleisie oor die kole, glasie rooiwyn in die hand, turend na die vlamme en die sterrehemel, my geliefdes aan my sy. Ja nee, om so ‘n dag oor en oor te beleef, is iets waarmee ek sal kan saamleef.

Ek sal voorts baie daarvan hou om ‘n tweede kans op sommige dae te kry. Om ‘n geleentheid te hê om foute reg te stel, onbenutte geleenthede aan te gryp, en onoordeelkundige besluite te heroorweeg. Dink net, dit is om die ‘in retrospek sou ek…’ scenario, te laat realiseer.

Maar gedane sake het inderdaad geen keer nie. Mag ek daarom insig ontvang om elke dag die eerste keer rég te doen! En genade en geduld met myself te hê wanneer ek dit, in al my feilbare menslikheid, nie regkry nie.

Advertisements
This entry was posted in Ligweg. Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s