Ek kan

Ek is ‘n spoorwegkind. In die piepklein dorpie waar ek grootgeword het, was daar nie veel om van te kies wanneer dit by die maak van ‘n bestaan kom nie. Meer as die helfte van die mans op die dorp het by die spoorweë gewerk – destyds ‘n florerende bedryf. Die beste deel van spoorwegkind wees, is dat ons verniet kon trein ry! Ons het gereeld oor ‘n vakansie die drie-dag tog see toe per trein aangepak. Dit was te lekker vir woorde!

Die spoorwegmense van ons dorp het in die spoorweggebied gewoon. Die res van die inwoners het in die dorpsgebied gewoon. Die twee woonbuurte is geskei deur die hoofpad wat deur die middel van die dorp loop. Al die huise in die spoorweggebied is volgens dieselfde styl gebou. Die kinders het hul dae in die munisipale parkie omgespeel. Die skool, die kerk, sowel as die meeste van die winkels was in die dorpsgebied.

In later jare het my pa ‘n erf in die dorpsgebied gekoop en ‘n huis daarop laat bou. Dit was ‘n middelklas huis met drie slaapkamers en een motorhuis. Ons kon nou skool toe stap saam met die dorpskinders, en het goeie maats geword. Ons het nie in weelde geleef nie, maar ons was ook nie arm nie. Ek het, soos al die ander kinders, ‘n Baby Angel pop, ‘n netbalbal, ‘n fiets en rolskaatse besit. Dit is alles waaroor ‘n kind kan droom

My pa het, teen die stroom in, besluit dat sy dogters na skool moet gaan studeer. My ma het my al die pad na Grootstad toe aangery om aanlegtoetse te gaan aflê. Die uitkoms daarvan was dat ek myself in ‘n rekenaarrigting moet bekwaam. Ek het op daardie stadium nog bitter min met rekenaars te doen gehad, maar so beslis is so gemaak. Drie jaar later het ek, diploma in die sak, by my eerste werksplek ingeklok.

Ek is twintig jaar later steeds by dieselfde onderneming werksaam, en ek geniet steeds my werk. Onlangs word ek in my werksplek genomineer om ‘n kursus in bestuurswese te deurloop. Ek voel iewat geïntimideer toe van die ander kursusgangers met die bekendstelling tydens die aanvang van die kursus, laat blyk dat hulle met hul meestersgrade besig is. Deel van die kursus is die gereelde inhandiging van werkstukke soos wat ons vorder. Ek werk hard daaraan, maar tas ook maar goed in die duister rond in die samestelling daarvan.

Op die voorlaaste dag van die kursus word die werkstukke, waarvan ‘n slimme doktor die voorlopige assessering gedoen het, uitgedeel. Daar is kommentaar bygeskryf oor hoe om die werkstuk te verbeter, met die oog op die finale assessering. Toe ek my werkstuk terugkry, sê die slimme doktor: ‘I read it, and I liked it’. Toe ek na die laaste bladsy blaai, lees ek sy verdere rojale lofbetuigings met trane van verligting wat agter my ooglede prik.

Met die laaste dag van die kursus breek my grootste nagmerrie aan. Elke kursusganger moet ‘n mondelinge aanbieding lewer. Ek het goed voorberei en my aanbieding oor en oor by my huis geoefen, maar toe my beurt aanbreek is ek nietemin ‘n senuweewrak. My maag is op ‘n knop, my handpalms sweet en my stem bewe, maar ek stoomroller voort deur my vooraf uitgewerkte aanbieding. Ek lewer my laaste sin net toe die alarm biep dat my tyd verstreke is. ‘This was a powerful presentation. I am genuinly impressed!’, gee die fasiliteerder terugvoer. Ek is oneindig verlig dat my aanbieding positief ontvang is.

Die kursus het my op ongekende maniere uitgedaag. In die proses het ek gegroei, vrese hanteer en ‘n sterker mens anderkant uitgekom. Ek het ‘n belangrike les geleer: in wese is daar geen verskil tussen ‘n spoorwegkind met ‘n nederige diploma, en ‘n dorpskind met ‘n groot graad nie. Ek is op trots op wie ek vandag is, maar ek is ook trots op waar ek vandaan kom.

Advertisements
This entry was posted in Gister se dinge, Inspirasie. Bookmark the permalink.

1 Response to Ek kan

  1. Toortsie sê:

    Hartlik geluk! Hartlik geluk dat jy elke geleentheid wat oor jou pad kom, aangeyp en die beste daarvan maak. Hartlik geluk met jou prestasies en wat jy vermag het. Hartlik geluk met die mooi uitslae.
    En ja, daar is geen verskil tussen die spoorwegkind en die dorpskind nie. Dalk verskil die geleenthede, of die aanmoediging, maar dis nie noodwendig dat die een in die dorp die voordeel het nie of dat haar ouers haar goed gaan ondersteun of aanmoedig nie. Elkeen het maar haar eie uitdagings en vrese.
    Nogmaals baie geluk.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s