Hoopdief

Ons het pas ‘n paar noodsaaklike items op ons inkopielys gekoop en is op pad terug na ons motor. Liefman sien ‘n oud-skoolmaat van hom raak, en na ‘n entoesiastiese groetery raak die twee aan die gesels.

‘Hoe oud is sy nou?’, vra Skoolmaat, verwysend na Liefkind wat ook staan en luister na die gesprek. Op Liefman se antwoord dat ons dogter tans in haar eerste hoërskool jaar is, deel Skoolmaat dat sy seun pas mondig is.

Vervolgens deel Skoolmaat raad uit dat die hedendaagse kinders hul in ‘n rigting moet bekwaam waarin daar oorsee ‘n aanvraag is. ‘Want daar is in elkgeval nie vir hulle ‘n toekoms in hierdie land nie’, verstrek hy die rede vir sy siening. Liefman beaam die belangrikheid van ‘n toepaslike studierigting, maar deel met sy gespreksgenoot dat hy ons kind graag ‘n lewe in hierdie einste land wil sien maak. Waarop Skoolmaat volhard: ‘Ons is oud en useless, die ander lande sal ons nie wil hê nie. Maar dit is waar ons kinders se toekoms lê.’

Ek het genoeg gehad. Ek neem my dogter aan die hand, en met ‘n ‘Ons stap eers aan’, lei ek haar weg. Dit is jou saak as jy kies om sonder hoop en in negatiwiteit te leef, maar moet jou siening asseblief nie op my, en veral nie op my jong tienerdogter, wat juis in haar huidige lewensfase hoop nodig het, kom afsmeer nie.

Negatiwiteit is soos ‘n versmorende, onaangename atmosfeer wat jou in ‘n beknopte ruimte wil insluk. Dankie tog dat ek hierdie keer kon ontsnap!

Noem my naïef en goedgelowig, dom-onnosel selfs. Maar ek bly lekker hier, ek is lief vir my land en ek bly hardnekkig aan ‘n toekoms hier glo – ook vir my kind. Ek is nie blind vir my land se probleme nie – korrupsie, geweld en ‘n wankelrige ekonomie. Ek weet van die impak van uitsterste weersomstandighede – van die wurggreep van droogte en die verwoesting van vloede.

Tog, om te sê dat hier nie ‘n toekoms vir ons kinders in hierdie land is nie, is myns insiens om God buite rekening te laat. Dit kan ek nie doen nie. Sou my dogter tog later besluit om haar wortels oor die waters te gaan verplant, sal ek haar nie terughou nie. Maar mag haar motivering daarvoor nooit wees dat sy glo dat dar geen toekoms vir haar in hierdie land is nie. Want ek glo met my hele hart dat die lewe is wat jy daarvan maak. En dat jy daarom kàn blom, waar in die wêreld jy ook al geplant is.

Advertisements
This entry was posted in Hartsdinge, Ouerskap. Bookmark the permalink.

1 Response to Hoopdief

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s