Begenadigde

Ek bevind my op ‘n gewone Saterdagoggend in ‘n haarsalon. Ek luister na die kwetter-geselsies van die vroue om my, elk in verskillende stadium van ‘n voorkoms-verfraaiing.

Oorkant my sit ‘n vrou, nie meer heeltemal jonk nie, met ligte gelaat en donker hare. Pragtig is sy vir my, keurig versorg van koontjie tot toontjie. Sy straal ‘n tevrede rustigheid, ‘n wysheid uit, wat my spontaan aangetrokke tot haar laat voel.

Die klokkie voor haar skril om aan te dui dat haar haarkleursel se tyd volgeloop het, en die haarkapster neem agter die mooie vrou plasing in. Dit moet haar eerste besoek aan die haarsalon wees, want die haarkapster vra vir haar, ‘Het jy kiddies?’. En toe die vrou ontkennend antwoord, kom die opvolgvraag, ‘En is jy getroud?’.
‘Ek is vyf en twintig jaar lank al getroud met ‘n wonderlike man wat baie goed is vir my, maar ons is kinderloos. Ons kan nie kinders hê nie,’

‘n Grootse jammerte vir haar vul my hart. En ‘n dankbaarheid in gelyke maat, want netsowel kon dit my woorde gewees het. Amper. Sò amper.

En en my man was drie jaar lank getroud toe die groot besluit geneem is. Ons het onsself amptelik en formeel in die ‘Ons probeer vir ‘n baba’-fase bevind. Ek is die fase met sterre in my oë en ‘n naïwiteit in my hart in. Alles sal goed gaan en reg uitwerk.

Ses maande later het ek myself in die ginekoloog se spreekkamer bevind. My lang, ongereelde en pynlike menstruele siklusse het my lewe versuur. Aangesien ek reeds knap voor my dertigste jaar gestaan het, het die dokter besluit dat ek ‘n hupstootjie in Projek-Babamaak nodig het. Ek is met ‘n pakkie pilletjies in die hand terug huis toe. Ek het my ginekoloog daarna op gereelde basis besoek sodat hy kon monitor hoe my liggaam op die hormoonpille reageer. My gesig het uitgeslaan soos ‘n tiener s’n. Na ‘n paar maande is ek opgradeer na hormooninpsuiting. My eerste kunsmatige inseminasie het kort daarna gevolg. Dit was onsuksesvol.

My man se toetse het gewys dat daar niks met sy vrugbaarheid skort nie. Wat ‘n genade is, maar ek het myself eindeloos kasty daaroor. Want, het ek myself wysgemaak, as hy met ‘n ander vrou getroud was, sou hy nooit nodig gehad het om die aaklige pad van vrugbaarheidsbehandeling te loop nie. My man het dit egter wonderlik hanteer. Dit was òns probleem, het hy my van die heel begin af verseker. Hy het later selfs my inspuitings toegedien – en my minder seer gemaak as die susters by die infertiliteitskliniek!

In daardie tyd het ons ‘n oom van my se begrafnis in ‘n ander dorp bygewoon. My neef en sy vrou, wat self die pad geloop het en toe kort swanger was, het aanbeveel dat ons ‘n kundige in die vakgebied opsoek. ‘Daar is ‘n groot verskil tussen ‘n ginekoloog en ‘n infertoloog’, het hulle dit ons op die hart gedruk. Ek is met nuwe hoop in my hart terug huis toe.

Prof Infertoloog het simpatiek en vol deernis en meelewendheid na ons storie geluister. Ek het onmiddelik aanklank by hom gevind. Hy het my kort daarna met endometriose gediagnoseer. Na my eerste laparoskopie het hy sy bevinding met ons gedeel. Die toestand is oorerflik, progressief en ongeneeslik, maar behandelbaar. Die nie-kwaadaardige gewasse wat so baie pyn en ongemak veroorsaak met my siklusse, en ook die rede vir my vrugbaarheidsprobleme is, is per laser verwyser. Maar dit sal weer groei. Dit doen altyd weer.

Daarom is ‘n aggressiewe hormoonbehandeling per inspuiting gevolg, en is ek noukeurig gemonitor deur die spesialis. My tweede inseminasie het gevolg, en raai – dit was positief! ‘n Relatief maklike swangerskap het gevolg, en my volmaakte babadogter is op 38 weke per keisersnit gebore. Sy was in die volledige brugposisie. Haar een heupie was as gevolg daarvan ontwrig, maar dit is op nie-ingrypende wyse reggestel. Haar naam beteken ‘Happy Victory’, en dit is sy, vandag al ‘n tiender, inderdaad vir ons.

Twee jaar later is ons vol vertroue terug na die infertoloog. Ek was oortuig daarvan dat hierdie rondte vinnig en maklik sou wees. Ons het mos nou die wenresep gehad! Ek het ‘n tweede baba met my hele hart begeer. Verdere laparoskopieë het gevolg, want die endometriose se teruggroei was na elke operasie meer aggressief. Ek het later ophou tel hoeveelste een dit was. Ons het nog vier inseminasies gehad – almal negatief. Ek was sielsongelukkig, en so gefokus op die tweede baba wat ek begeer, dat ek die lieflike seëninge wat ek reeds gehad het, misgekyk het.

Erens het ‘n keerpunt gekom. Ek het besef dat die feit dat ek ‘n kind het, nie van my ‘n vrugbare maak nie. Ek was erg bitter daaroor. My gesinsopset het na ‘n ongebalanseerde drie-pootpot gevoel. Pa-en-ma-en-kind. Ek het skludig gevoel elke keer wanneer my enkelkind vir ‘n sussie gevra het.

Dit was ‘n pynlike proses, maar met tyd het aanvaarding en berusting gekom. My re-produktiewe jare is nou verby, en in die twintig jaar wat ek getroud is, het ek nooit weer swanger geraak nie. Nie op natuurlike wyse nie, en ook nie met behandeling nie.

Daar is nie woorde om te beskryf hoe ek voel oor hoe my man die seer pad van onvrugbaarheid saam met my gestap het nie. Hy is my rots en my anker. Ons is sielsalig gelukkig saam. My dogter is ‘n onuitputlike bron van vreugde. Om haar Mamma te wees is die heel mooiste seëning in my lewe. Ons pa-ma-en-kind opset is volmaak in my oë.

As onvrugbare leef ek ‘n vrugbare lewe. Ek glo dat die infertiliteits-prosesse van my ‘n ryker, dieper, empatiese, EWIG-dankbare mens gemaak het.

Dit is vir my genoeg.

Ek sal altyd, altyd ‘n begenadigde van die Here wees, want as dit nie vir daardie een suksesvolle inseminasie was nie, was ek vandag die vrou in die haarsalon wat twintig jaar lank getroud is met ‘n wonderlike man wat baie goed vir my is, maar saam met wie ek kinderloos is, omdat ons nie kinders kon hê nie.

Advertisements
This entry was posted in Liefde. Bookmark the permalink.

1 Response to Begenadigde

  1. ekmyselff sê:

    SOOOO gebless, voel jammer vir die dame…

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s