Seën vir ‘n weggooibaba

Ek het in ‘n Christen-huis grootgeword, en om Sondae kerk toe te gaan was in my ouerhuis so normaal soos om elke dag tande te borsel. Ek het in my standerd-sewe jaar tot bekering gekom, en later met ‘n man getrou wat sterk in die Here staan. Ons gaan steeds, per enkele uitsondering na, elke Sondag kerk toe. Die punt van hierdie lang relaas is dat ek, nou in my laat veertigs, al na baie, baie preke geluister het.

Toe gebeur dit soms steeds dat ek ‘n erediens bywoon waaraan ek jare later steeds bly terugdink. So was dit ook tydens ‘n onlangse Sondag in my kerk. Dit was nie dat die preek splinternuwe waarhede vir my oopgebreek het nie. Dit was ‘n klein, piepklein mensie wat ‘n onuitwisbare indruk op my gemaak het.

Ons pastoor het naamlik gedeel dat ons gemeente ‘n huis van veiligheid vir babas in ‘n vennootskap aangeneem het. Die huis is afhanklik van skenkings. Die babas wat hier versorg word, het geen ander heenkome nie. Hulle is van hulle ouers weggeneem deur ‘n maatskaplike werkster, of in die hospitaal agtergelaat, of iewers in ‘n veld of ander derglike plek gevind. Dit is ‘n hartseer storie, en die babas se toekoms lyk bra bleek. Maar hierdie huis van veiligheid, met ‘n huismoeder en ‘n paar versorgers, skep juis vir hierdie babas ‘n tuiste vol warme, liefde en versorging, met die kans om aanneming nie uitgesluit nie. Dit is inderdaad ‘n Huis van Hoop.

Dan kondig Pastoor aan dat een van die babas die oggend in ons kerk ingeseën gaan word. Die huismoeder word na vore geroep. Die kleine babadogtertjie in haar arms is alte fraai in pienk geklee, met ‘n spierwit kopband wat ‘n sterk kontras met haar donker haartjies vorm. ‘n Paar gemeentevroue word vorentoe genooi, en hulle omhels die huismoeder en koer oor die babalyfie.

Pastoor hou die inseën-sertifikaat in die lug en verduidelik dat dit die heel eerste keer is dat hy ‘n sertifikaat uitreik waarop daar nie ‘n pappa en mamma se name ingevul is nie. Hy word oorval deur emosie en sy stem breek. Oral in die kerk vee gemeentelede trane af. Dan bid Pastoor ‘n kragtige seënbede oor die babadogtertjie. Hy bid God se guns en beskerming oor haar lewe, dat sy vroeg reeds ‘n oorgawe aan Jesus sal maak, en dat haar toekoms geseënd sal wees. Dan word die KleinsteMensie se heel eerste Bybel aan haar, via die huismoeder, oorhandig.

Ek beaam elke woord van die seënbede. Mag ons HemelVader vir jou sorg, deur mense wat met die hemel in hulle harte leef. Mag jy liefde ken, elke dag, in oorvloed.

Mooi loop, liefste klein Poplap.

Advertisements
This entry was posted in Geestelik. Bookmark the permalink.

1 Response to Seën vir ‘n weggooibaba

  1. Toortsie sê:

    So ontstellend, al die onwelkome babas. So mooi hoe julle gemeente dit hanteer. Mag sy regtig met liefde grootword.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s