Projek Organiseer

Meneer Georganiseerd stap koffiebeker in die hand by my kantoor in. Hy kry sy sit in my besoekerstoel en ek skud my vere reg vir ‘n lekker gesels. Die gesprek vat ook sommer vinnig vlam, siende dat ek en hierdie mater heelwat belangstellings deel. Meneer Georganiseerd se hande wil saam gesels en hy mik na my lessenaar om sy koffiebeker êrens neer te sit. Maar op my ganse deurmekaar lesseneer vind hy nie ‘n enekele oop gaatjie vir sy koffiebeker nie, en na ‘n oomblik se oorweging plak hy die koffiebeker toe maar op die vloer langs sy stoel neer. Ek bloos tot in my kroontjie…

Ek hou self daarvan om in ‘n netjiese en geordende omgewing te werk, maar die afgelope paar weke was erg besig by my werk. Ek het in krisisbeheer-modes van die een taak na die volgende gevlieg, en my beste voornemens om die administratiewe deel van my werk by te bring, het elke maal tweede viool gespeel. Maar hierdie insidentjie was die laaste strooi. En laat ek dit nou tog maar erken, ek hou baie meer daarvan om sagteware voor my rekenaar op te tower as om my met (beuselagtige) administratiewe take besig te hou.

Maar genoeg is genoeg! Daar is immers net een manier om ‘n onaangename taak gedoen te kry – en dit is om dit te doen! Ek besluit dus om voortaan die eerste uur van elke werksdag aan administratiewe take af te staan. Dit is in ieder geval die onproduktiefste deel van my werksdag, want daar word gewoonlik eers ‘n koffie’tjie gesluk, en hier en daar ‘n woordjie met ‘n kollega gewissel.

Ek spring die volgende oggend vroeg soos bepland aan die werk deur deur die hopies papier op my lessenaar te begin gaan. Ek sorteer en liasseer en ‘bin’ vir ‘n vale. Ek ontdek dokumente wat nog ‘n handtekening nodig het, memo’s van take wat al lank reeds afgehandel is, en ook hier en daar ‘n versoek om my aandag wat vergete gebly het. Dit neem net drie oggendsessies om my lessenaar pragtig skoon en netjies te kry.

Dit laat my erg tevrede met myself voel. Dit skep tog ‘n baie beter en meer professionele indruk om in ‘n silwerskoon en netjiese kantoor in te stap. Ek is begeesterd om my nuutgevonde gewoonte staande te laat bly.

This entry was posted in Ligweg. Bookmark the permalink.

1 Response to Projek Organiseer

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s