Perfekte geskenkgewer

Ek is nie groot op geskenke nie. Om die waarheid te sê, volgens die Gary Chapman se Vyf Liefdestale-vraelys, het ek ewe min punte vir Geskenke en Dade van Diens gekry. Woorde van aanmoediging is my liefdestaal van voorkeur. ‘n Opregte kompliment of ‘n hartlike bedanking of woord van waardering, maak my emosionele tenkie sommer vinnig barstens vol. Met Kwaliteittyd wat sterk om die tweede plek meeding. Vir Aanraking soos ‘n innige drukkie of rugkrappie sal ek ook nie maklik nee dankie nee sê nie.

Liefman se vraelys toon dat hy selfs minder punte as ek vir Geskenke behaal. Dus het ons twee lank reeds begin om ‘n spesifieke versoek vir ‘n verjaardaggeskenk te maak. Of sommer die ander party te nooi om self ‘n geskenk uit te soek wat dan net deur die gewer toegedraai word. Maar afskeep met die woorde op my verjaardagkaartjie, dit weet Liefman, durf hy nie doen nie. Ons twee sal gereeld op ‘n spesiale geleentheid soos ‘n huweliksherdenking besluit om die geskenke agterweë te laat, en dit eerder te belê in ‘n gedeelde ervaring, soos om by ‘n restaurant te eet wat ons nog nie voorheen besoek het nie, of om ‘n naweek na een van ons gunstelling plekkies weg te breek. Dit werk perfek vir ons, siende dat ons albei versot op Kwaliteittyd, in terme van liefdestale, is.

Ek het egter ‘n kollega wat die kuns verstaan om my hart met haar keuse van geskenke te vermuwe. Sy kies nie groot of duur geskenke nie, maar doen duidelik baie moeite om seker te maak dat dit iets sal wees waarvan ek hou. Soos ‘n pak vrolike servette. Hoe sy dit weet wis ek nie, maar ek voel oor servette soos menige ander vroue oor hul skoenekas voel. Ek sal heel dikwels, net vir die lekkerte daarvan, voor die servetterak in ‘n winkel ronddwaal en my aan al die pragtige kleure en motiewe verwonder. Met my troue wou ek ‘n servet hê wat my asem wegslaan. Ek het die perfekte servet in ‘n klein plattelandse dorpie gewaar. En terstond die winkel se hele voorraad van die bepaalde servet opgekoop. Wat weliswaar nie genoeg was vir die hoeveelheid wat ek vir my troue sou benodig nie. Die servet was op ‘n blommotief in dromerige violet-skakerings, met musieknote in bladmusiekformaat daarnaas. By navraag van die bestuurder van die winkel, het hy my gemaan dat die spesifieke servet nie meer gedruk word nie, en dat ek gaan sukkel om dit weer te koop te kry. Hy het my die verskaffer se naam gegee, en dié weer al die winkels waar hy die servette aan versprei het. Ek het lang draaie agter daardie servette aangery, en tot my groot verligting uiteindelik daarin geslaag om die totale aantal benodigde trouservette aan te koop. Maar kan jy glo, vir maande na my troue nog, het ek, wanneer ek ‘n pak van my trouservette iewers gewaar, dit op die plek gekoop. Met die gevolg dat ek, nou twintig jaar reeds getroud, steeds met ‘n hele klomp pakke trouservette in my gangkas spog. Wat ek, kan jy raai, heeltemal te jammer voor is om te gebruik…

Ek het nou op ‘n langpad afgedwaal. Terug na my kollega met die perfekte-geskenk-uitsoek gawe. Sy is ook mal daaroor om snoesige serpe, vrolike gesighandoekies, verrruklike handeroom (nog een van my geheime obsessies), of vrolike gestreepte lap-inkopiesakke te koop. Sy sal haar geskenk keurig toedraai en versier, en ‘n vrolike kaartjie met ‘n spesiale boodskappie daarby voeg.

Ja, ek het nie veel erg aan geskenke nie. Behalwe as dit by my kollega kom. Oor haar geskenke is ek eenvoudig mal!

Advertisements
This entry was posted in Ligweg. Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s