Eenders en anders

My ma is op negentien uit haar ouerhuis uit getroud, en op een en twintig was sy reeds ‘n moedertjie. In haar laat veertigs, op my huidige ouderdom, was beide haar dogters uit die huis, en haar oudste, dis nou die uwe, reeds getroud. Sy moes weliswaar ‘n paar jaar wag om ouma te word, maar dit het ook in haar vroeg vyftigs gebeur.

Ek daarenteen, het later as die meeste van my tydgenote getrou, met Liefman wat eers sy opwagting gemaak het toe ek begin wonder of die rak my ewige lotsbestemming gaan wees. Ons het die eerste drie jaar van ons huwelik omgespeel, dit was wonderlike jare waaraan ek altyd met groot toegeneëntheid sal terugdink. Daarna het dit nòg soveel jare geduur voordat ons eindelik ouers sou word. Met die slotsom dat ek sekerlik pensioendraende ouderdom kan nader wanneer my dogter, nou eers pas in die hoërskool, haar studies sal voltooi het om ‘n eie potjie te begin krap.

Ek dink nie noodwendig die een scenario is beter as die ander nie, dit is mos maar hoe die speelkaarte deur die lewe uitgedeel word. Ek is in ieder geval verheug dat my liewe dogter onder my dak gaan wees totdat ek ‘n meer gevorderde ouderdom sal bereik.

Ek en my moeder deel ‘n klompie raakpunte. Ons is altwee kombuismense, en hoewel Moeder my daar een voor is, verlekker ek my behoorlik daarin as so ‘n bobaaskos my periodiek om ‘n resep nader. Ek deel nie Moeder se liefde vir naaldwerk nie, en sy is dalk nie heeltemal so entoesiasties oor tuinwerkies soos ek nie. Ek is gek na lees, en sy is lief daarvoor om haar met ‘n handwerkie besig te hou. Voorts het Moeder haar lewe lank in ‘n beroep gestaan, soos wat ek ook doen. Ons albei verstaan dus die eise van die lewe van ‘n voltyds-werkende huisvrou wees. Dit is veilig om te sê dat ons families ‘n fondament van ons albei se vrou-wees vorm. Ons versorg, bederf, en gee liefde aan ons mense sonder om enigiets terug te hou. My ma is ‘n Spreuke-vrou wie se hande vir niks verkeerd staan nie, en ek streef daarna om haar voorbeeld te volg.

Meer as enigiets anders, deel ek en Moeder ‘n hewige renons in die Winter. Een van my helderste herinneringe aan my grootwordjare, is hoe Moeder soggens bibberend haar werksklere met yskasvingers aansukkel, terwyl sy met gereelde tussenposes bevestig: ‘O, ek haat die Winter!’. Soos wat ek vroegoggend aan my man bieg, ‘Ek moan hierdie hele Winter om!’. Met ‘n hartsvriendin wat goedig troos, ‘Ten minste is ons Winter in die Suidelike Halfrond net vier maande lank.’

In alle regverdigheid, het selfs ‘n aaklige vent soos Winter darem ook ‘n goeie eienskap of wat. Cuddles met my gesin saans onder ‘n snoesige kombers voor die televisie, geurige trooskos soos bredies en soppe, en dan vind ek ‘n waardige winterboom, gestroop van blaar en vrug, afgeëts teen ‘n sterk kontrasterende ysblou hemel, verruklik mooi.

Daarom, vasbyt Moedertjielief, hierdie Winter sal ook weer verbygaan. Maar tot dan, kom ons twee winterhaters probeer tòg ook die goeie daarvan raaksien en waardeer.

Advertisements
This entry was posted in Hartsmense. Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s