Halfhartige fliekflooi

My tienerdogter en haar Pa is ywerige fliekflooie met ‘n besondere voorliefde vir aksiehelde waarin een of meer van hulle superhelde ‘n hoofrol speel. Onder my dogter se gunstelinge tel ‘The Flash’, ‘Supergirl’ en ‘The Avengers’. Ek is maar te bly dat sy en haar Pa fliekmaatjies is sodat ek van die gedoente verskoon kan word.

In ‘n onlangse gesprek aan die etenstafel wil ek darem ook ‘n eiertjie oor flieksake lê, en bied toe aan om my Top-5 flieks van alle tye met my twee fliekflooie te deel. Waarop my dogter ewe hardop wonder of ek al ooit vyf flieks in my lewe gesien het. Dit is iewat van ‘n oordrywing. Hoewel ek nie gaande is oor fliek nie, het ek darem ook al ‘n paar gunstelinge deur die jare opgebou.

Ek was absoluut gaande oor Cast away met Tom Hanks en Helen Hunt in die hoofrolle. Ek sal enige Tom Hanks fliek gaan kyk, hy is loshande een van my gunsteling akteurs. Ek het my hart op Helen Hunt verloor in die ‘Mad about you’ sitcom, en is spyt dat sy nie in meer flieks gespeel het nie. Cast away is ‘n fliek wat ek al ‘n hele paar maal gesien het, en nog elke keer geniet het.

Die fliek Boy’s Choir het my aan die hart geraak soos wat min ander kon regkry. Dit is een fliek wat ek graag wou sien vandat ek daarvan gehoor het, en dit was selfs beter as waarop ek gehoop het. Die storielyn is hartroerend en meesleurend, en die hemelse musiek van jong seunstemme is hoendervleis mooi.

Wonder met Julie Robert in die hoofrol het ek meer onlangs gesien en ongelooflik baie geniet. Dit is nog ‘n hartsfliek wat ‘n mens diep laat nadink, en weer laat glo dat die goeie sal oorwin. Dit is ‘n fliek waaraan ek nog baie terugdink, en vir enige iemand sal aanbeveel.

Mr Holland’s Opus is ‘n fliek wat ek jare gelede vir die eerste keer gesien het. Ek sal die fliek graag met my tienerdogter wil deel. Ek is baie lief vir musiek en speel self klavier, dus kon ek identifiseer met die oorhoofse tema van die fliek. Die storielyn word gekomplimenteer met die lewe in al sy kinkels en draaie. Dit was ‘n besondere fliekervaring.

Die laaste op my lys is Blind side met Sandra Bullock in die hoofrol, ook ‘n fliek wat ek al ‘n paar maal gesien het, en weer sal kyk as die geleentheid hom sou voordoen. Dit is ewenseens ‘n opbouende verhaal vol hoop en empatie en opregtheid.

Die sentrale tema van die flieks op my top-5 fliek lysie, is tekenend van die tipe flieks waarvan ek hou. ‘n Romantiese komedie op sy tyd kan nie kwaad doen nie, solank as wat die humor skoon is. Ek hou nie van flieks met ‘n snaarstyf gespande spanningslyn nie, ek wil ontspan wanneer ek die slag so ver kom om te fliek. My beste fliekervaring is gegrond op ware verhale, of ten minste ‘n realistiese storielyn, wat opbouend is en my gees stig. ‘n Fliek wat my laat glo in die goedheid van die mensdom, en my inspireer om ook ‘n merk in my omgewing te laat. Meer van daardie soort rolprente mag my dalk net laat werk aan ‘n Top-10 flieklysie…

Advertisements
This entry was posted in Ligweg. Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s