Rou-proses

Ek is van my voete af geskok toe ek die nuus ontvang dat iemand in my kring se eggenoot baie skielik en onverwags, na komplikasies van ‘n operasie, oorlede is. Die nuus raak my diep, sy en haar man is ongeveer dieselfde ouderdom as ek en Liefman. Ons kinders is in dieselfde skool. Ek dink my in haar skoene in, en kan nie begin om te dink hoe sy hierdie groot verlies sal kan hanteer nie.

Ek besluit om die gedenkdiens by te woon, ter ondersteuning. Toe ek by die kerk kom, staan sy en haar kinders in die tuin. Sy lyk pragtig en keurig versorg. Ek gee haar ‘n drukkie, sy ontvang my woorde van simpatie met grasie, en maak ‘n ligte opmerking. Iemand anders hou haar vir ‘n lang ruk styf vas en vra hoe dit gaan. ‘Dit gaan okei’, antwoord sy. En vervolg, ‘ek weet dit is nie wat jy wil hoor nie, maar ek is regtig oukei’.

Die huldeblyk is presies soos wat sy dit wou hê – ‘n gedenkdiens om haar man se lewe te vier, nie ‘n roudiens om van hom afskeid te neem. Sy lewer self ‘n huldeblyk, en deel humoristiese staaltjies uit haar dinamiese man se lewe met die gehoor. Onderwyl dit alles stort sy nie ‘n enkele traan nie. By ‘n later geleentheid deel sy dat haar vriendin vir haar gevra het watter kalmeermiddel sy voor die gedenkdiens gebruik het. Waarop sy antwoord dat sy geen middel gebruik het nie, God is haar bron van krag.

Ek bewonder haar innerlike krag, wat ‘n groot indruk op my maak. Later deel ek met my afdelingshoof by die werk daaroor. Sy is ‘n vrou wat ook al haar deel van die lewe gesien en deurleef het. Haar antwoord op my vertelling laat my diep dink:
‘Wanneer ‘n geliefde doodgaan, is daar ‘n sekere aantal trane wat jy moet huil. As jy dit nie by die begrafnis of in die tyd van rou daarna huil nie, gaan jy twee jaar later, wanneer iemand net skeef na jou kyk, begin huil, en dan gaan jy baie moeilik weer ophou om te huil’.

Verskillende mense rou op verskillende maniere. Vir niemand is die proses maklik nie. Tog, die lewe gaan aan, en die oorlewende pas uiteindelik by die nuwe realiteit aan. En vind dikwels later weer sin, ‘n doel en geluk in die lewe.

Advertisements
This entry was posted in Mymeringe. Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s