Onwelkome indringer

Ek dink niks daarvan toe my ginekoloog my verwys na ‘n radioloog vir my eerste beendigheidstoets nie. Ek sien dit in dieselfde lig as my jaarlikse besoek aan my tandards, my oogarts of my cholesterol-toets.

Nadat my rugstring en heupbene uit elke moontlike hoek vasgevang is per X-straal, word ek na die radioloog se spreekkamer teruggeroep vir terugvoer. Sy roep my liggaam se beeld op haar rekenaarskerm op en sê sonder omhaal: ‘Jy het al klaar osteopirose’. Op my naïewe vraag of dit normaal vir my ouderdom van laat-veertigs is, skud sy haar kop. Sy wys na ‘n grafiek op die rekenaarskerm, my telling is in die middellyn van die laagste vlak van beendightheid. Sy maan dat die bene in my liggaam maklik sal breek, en dat ek met tyd al hoe krommer sal trek. Dat my drawwery, hoewel dit goed is vir osteopirose, saam met vitamiene D van sonblootstelling, en kalsuim aanvullings, nie genoeg is om te verhoed dat osteopirose verder ontwikkel nie. Ek sal dadelik met behandeling moet begin. ‘n Paar minute later sit ek, getikte verslag wat die diagnose bevestig in die hand, eers ‘n versie in my motor en huil oor die onverwagse nuus.

Ek beleef iewat geamuseerd dat my emosies ‘n eiesoortige ‘stadiums van rou’ betreë . Ek plaas ‘n hoë premie op gesondheid en probeer wyse keuses daaromtrent maak. Die ding is, my ma het osteopirose, en ek het haar na ‘n klompie kundiges in die verband vergesel. Een slimme spesialis het voorgestel dat my ma na haar liggaam luister, aktiwiteite wat pyn veroorsaak nie oordoen nie, en leer om haar pyn te bestuur. Wat op praktiese vlak beteken dat my ma ten alle tye ‘n pakkie pynpille in haar handsak het. ‘n Ander kundige het praktiese raad gegee. My ma moet elke dag vir twintig minute stap, op die warmste deel van die dag sodat haar vel die vitamiene D wat sonlig bevat kan absorbeer, omdit dit die vordering van osteopirose vertraag. My probleem is, ek is ‘n ywerige drawwer wat, saam met die kalsiumaanvulling wat ek al vir jare daagliks sluk, alreeds die meeste dinge reg doen. En ten spyte daarvan kry ek toe wraggies osteopirose. ‘My hart is seer’, kla ek by my Sus. Sy vra uit en laat my praat. Sy luister en simpatiseer en gee raad soos wat net ‘n sussie wat ook ‘n beste vriendin is, kan doen.

Die volgende dag is ek smoorkwaad. Ek is kwaad vir Hardloop wat veronderstel was om ‘n gewaarborgde teenvoeter vir ostepirose te wees. Hardloop het my in die steek gelaat! So kwaad is ek vir Hardloop dat ek vir die eerste keer in drie jaar nie vir my plaaslike Cityrun aantree op die eerste Saterdagoggend na die osteo-diagnose nie. In plaas daarvan was ek my huis se matte. Ek skuif meubels vrou-alleen weg. Ek skrop die kolle op die mat met ‘n borseltjie terwyl ek hande-viervoet staan. Ek stofstuig en draf die huis met my matwasser kaf. Ek klim die aand in die bed sonder ‘n enkele pyn. Die harde fisiese werk laat my sterk en lewenskragtig voel. Ek besef dat dit ‘n manier van rebelleer teen die osteo-diagnose is, maar ek het nodig om aan myself te bewys dat ek nog steeds ék is, osteopirose ten spyt.

Ek begin ‘n maand later met Boniva, wat my dokter vir osteopirose aanbeveel. My mediese fonds se spesifieke plan dek nie osteopirose as ‘n chroniese siektetoestand nie, wat beteken dat ek uit my sak vir die medikasie moet betaal om te verhoed dat ek my mediese fonds se limiete op medikasie te vroeg in die jaar bereik. Die pil moet een keer per maand op ‘n nugter maag geneem word, waarna vir veertig minute regop gesit moet word. Die eerste keer wat ek Boniva gebruik is ek die hele dag daarna baie naar en braak met gereelde tussenposes. Dit is eers teen laatmiddag wat ek ‘n kossie in my lyf kan hou. Ek kontak my dokter, wat Nexmezol voorskryf om my maag te beskerm, wat ek die dag voordat ek Boniva neem, en ook die dag waarop ek dit drink, moet gebruik. Vir praktiese reëlings gebruik ek die Nexmezol teen laatmiddag, omdat dit ook op ‘n nugter maag geneem moet word. Dit werk soos ‘n bom, ek is glad nie siek of naar toe ek Boniva die volgende maand saam met Nexmezol gebruik nie.

Hiermee dan ‘n vaste voorneme om nie hierdie reis vooruit te loop met verdoemende voorspellings nie, maar om elke dag te vat soos dit kom. Om getrou my medikasie te gebruik en aan te hou met hardloop. Om my beendigtheid jaarliks te toets en te hoop en glo dat dit met tyd sal verbeter. Om die Here te vertrou en my lewe voluit te leef.

Advertisements
This entry was posted in Leefstyl. Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s