Oor ouer-word

Ek lees onlangs hoe ‘n reisgenoot in die lewe haar lot bekla oor haar naderende vyftigste verjaardag. Sy weet nie, kla sy, hoe sy daardie kwade dag sal kan hanteer nie. Haar relaas laat my iewat geamuseerd voel, veral omdat dit in skerp kontras met mý siening oor die onderwerp ter sprake is.

Ek sien erg uit na my vyftigste verjaardag en die vooruitsig laat my, indien enigiets, opgewonde voel! Hoewel ek nog ‘n jaar of twee vir die heuglike gebeurtenis sal moet wag. Ouer word is ‘n voorreg – van my hartsmense het na hul ewige tuiste verhuis nog voor hul vyftigste verjaardag. Elke jaar wat by ‘n aardse lewe gevoeg word, is ‘n genadegawe om in dankbaarheid te vier, en ten volle te benut.

Ek het my veertigste jaar gevier deur die Comrades-maraton te voltooi. Dit was ‘n goue belewenis wat my altyd sal bybly. Ek beplan om ook iets spesiaals vir my vyftigste lewensjaar te doen. ‘n Luidrugtigte partytjie met ‘n menigte gaste trek my glad nie, ek vind die blote gedagte uitputtend. Veel eerder ontvoer ek my naastes na ‘n multi-dag staptoer in verruklike natuurskoon. ‘n Pelgrimstog om terug te kyk en vorentoe te reik.

Ek baklei nie teen oudword nie, maar ek belê in my liggaam, om sover moontlik sterk en gesond te bly om my in staat te stel om ‘n kwaliteitlewe te bly leef. Ek wil aanhou om te draf en aan padwedlope en my weeklikse Cityrun deel te neem. Die oudste deelnemer aan my stad se Parkrun neem in die 80-85 jaar ouderdomskategorie deel. Dit is ‘n voorbeeld wat ek vas van plan is om na te volg – en te oortref!

Natuurlik is daar mos maar tekens van ouer word. Van my middel-veertigs af blyk dit dat my sig by die week agteruitgaan. Dan is daar ook die permanente suising in my ore, wat die oudioloog ook as ‘ouderdomsverwant’ verklaar. Ek is wel in my noppies om te ontdek dat my weeklikse Pilates-klas tog wel positief in my liggaam inbou in terme van soepelheid en algemene krag . ‘n Mens hoef nie te aanvaar dat jy swak en verstok gaan verouder nie…

Facebook verras my onlangs met ‘n foto van myself wat ek agt jaar gelede geplaas het. Ek staar geskok na die lang, blink hare-weelde en die smal, gladde gesiggie. Hoe gaan ek oor nóg agt jaar lyk?! Maar steeds, ek beskou my veertigs as my heel lekkerste dekade tot nóg, en ek het ‘n sterk vermoede dat my vyftigs net nóg lekkerder gaan wees. En wat fisiese voorkoms betref, ‘n plooi hier en daar gee karakter aan ‘n gesig, en met ‘n grys haar is daar altyd ‘n plan te maak. Die ekstra kurwe, ronding en rolletjie sien ek as vrouliker en meer sensueel as die plankdun geraamtetjie met wie my man twintig jaar gelede getrou het – ‘n feit waarmee hy heel guitig saamstem. Ek is op pad na vyftig, en ek voel steeds mooi, want skoonheid het meer met ‘n vrou se siening van haarself te doen as enige iets anders.

Ouer word is ‘n voorreg en ‘n seën. Oudword kan ook ‘n heel opwindende avontuur wees – as ek dit toelaat. Ek beplan om my hart en siel in dié avontuur te werp.

‘Realising a dream is not necessarily about winning the trophy, it’s about striving for it. A dream allows you to live.’ Natalie du Toit – Tumble turn

Advertisements
This entry was posted in Leefstyl. Bookmark the permalink.

1 Response to Oor ouer-word

  1. Toortsie sê:

    Die vyftigs is héérlik. 😁

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s