Een soos ek, en tog ook nie.

Ek is versot op haar. Absoluut en onvoorwaardelik. Skattige klein dogtertjie. Fraaie meisiekind. Lieflike ontluikende jong vrou. My eie, eie kind. My enigste, daarby.

Toe sy heel klein was, was ek mal daaroor om na haar te kyk wanneer sy slaap. Mooiste klein engeltjie. Ek kon skaars my goeie geluk glo. Ek is ‘n mamma. Oplaas. Háár mamma.

Deesdae neem ek gefassineerd kennis van die ontwikkeling van haar persoonlikheid. Hoe sy in haar menswees in groei, as’t ware. Sy het ook maar haar eie unieke gewoontetjies, soos elkeen van ons maar. Soos dat sy baie stadig eet en baie vinnig praat. Sodat ek soms die stortvloed van woorde onderbreek met ‘n ‘Hokaai jong, ek kan nie so vinnig process nie!’

Sy gee opreg om vir sake wat haar hart raak, en verknies haar veral oor die lot van diere. Sy droom groot oor haar toekoms, maar trek ook gereeld haar vermoëns in twyfel. Sy is erg mal oor die vriende in haar binnekring, maar kies hulle versigtig – sy is beslis nie álmal se maat nie.

Haar voorkoms gaan nie by die seuntjiekinders in haar omgewing verby nie, en aan aandag van die teenoorgstelde geslag is daar nie ‘n tekort nie. Daaraan steur sy haar min. Soos wat sy my, iewat geïrriteerd, onlangs meedeel: ‘Ek wil in elk geval nie nou al ‘n boyfriend hê nie. Boyfriends is soos klein seuntjies – hulle soek die hele tyd aandag!’ Ek knik sedig, wel wetende van daai één wat haar hart met ‘n enkele blik op galop kan sit; ‘n geheim wat sy baie goed bewaar.

Onlangs stormloop ek en sy ons plaaslike mall op ‘n doodgoeie Saterdagoggend. Sy met ‘n beursie wat haar brand en ‘n hart vol somersbegeerte vir ‘n nuwe rok, ek net vir die plesier van saamwees. Ons pas arms vol rokke in eindelose klerewinkels aan, sy al sukkelend om ‘n finale keuse te maak, ek vir die pret en saamwees daarvan. ‘Dis fun om saam met mamma te shop’, komplimenteer sy my in eg tiener-tipiese taal.

Oplaas, voetseer en met haar droomrok in ‘n inkopiesak oor haar arm, gaan soek ons ‘n lafenissie in ‘n coffee-shop. ‘n Verbyganger stop by ons tafeltjie en sê, ‘I cannot believe the resemblance between the two of you. You look like sisters!’ Woorde waarin hierdie ma haar natuurlik verkneukel.

Dit is die waarheid. My dogter is een soos ek, maar op haar eie, unieke manier. Ek is eindeloos dankbaar vir die vreugde wat ons verhouding my bring; en ek sien uit om te beleef hoe dit oor baie jare een, nog gaan verdiep en verinnig deur ons gedeelde belewenisse heen.

Liefjou, Liefkind.

Advertisements
This entry was posted in Liefkind. Bookmark the permalink.

1 Response to Een soos ek, en tog ook nie.

  1. Positief sê:

    Baie mooi geskryf, jou dogter klink na ‘n oulike meisiekind

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s