Dinge wat my gelukkig maak

My eerste koppie tee vir die dag, gewoonlik ‘n paar minute na my aankoms by die werk. ‘n Koppie tee wat ek talmend, tydsaam drink. Slukkie vir slukkie wyl die behaaglikheid deur my spoel.

Om liefgehê te word deur ‘n kind. In alle naïwe opregtheid. Sonder plan of rede of voorbedagte rade. Dit is liefde in sy suiwerste vorm.

Om my te verloor in ‘n goeie boek. ‘The book thief’ was ‘n onlangse leeservaring wat my vir baie lank nog gaan bybly. In my boeke bly lees ‘n heerlike tydverdryf en bied dit vermaak van die heel beste gehalte.

Om aan ‘n glasie goeie rooi te teug, turend in die vlamme van ‘n vuurtjie, Liefman aan my sy. Hy is nie perfek nie, ek nog minder so. Maar hy maak my gelukkig, soos ek vir hom. Meer as dit sou wees om vir te veel te vra.

My orgideë se asemrowende blomme. Elke derde dag word ek verras deur nòg ‘n knop wat oopgaan. Dit sorg vir vreugde wat bly luier, glad nie haastig om sy ry te kry.

Reën. Die einste reën wat so hardnekkig wegbly, sou my nou sielsalig gelukkig maak. Reën wat elke sintuig betrek. Die klank, die reuk. ‘n Varsgereënde, papnat, tevrede aarde. Nat grond, druppels wat aan grasspriete kleef en aan roosblare hang. Asseblief Here, stuur die reën om die dorre aarde te versadig.

Louter vreugde is dit om my tekkies aan te trek en ‘n ent te gaan hardloop, des te meer as my tienerdogter deel in die pret. Met endorfiene wat kort voor lank onverdund deur my are begin bruis sodat ‘n spontane glimlag om my mond losbreek. Om kalmte te vind in klein, beheersde bewegings in ‘n Pilates-klas. Om in mooi natuurskoon te stap. Om by die see te wees, en die belewenis met elke sintuig in te drink.

Maar dalk, meer as enigiets anders, lê geluk daarin om iets vir ‘n ander te kan beteken. Om ‘n verskil te maak, ‘n ander se gemoed te lig en ‘n oomblik mooi te maak. Om die werktuig te wees wat God gebruik om iemand se gebed te verhoor. Dan eers, verstaan ek wat vreudgde werklik beteken.

This entry was posted in Mymeringe. Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s