Gebed vir geluk by die ongeluk

Sy is ‘n merkwaardige vrou, in elke aspek denkbaar. ‘n Enkelmamma wat haar hart en siel aan die grootmaak van haar twee seunskinders gewy het. Beide is teen hierdie tyd jong manne. Die oudste maak sy bestaan derduisende kilometers ver weg van haar. Hulle harte bly na aan mekaar, maar daar is beperkinge op wat hy vir haar kan doen. Haar jongste is gestremd, en met die suiwerste, edelste moederliefde denkbaar help sy hom om selfs die mees basiese take en funksies baas te raak. By haar werk gaan dit die meeste dae maar so-so, maar wie nie werk nie sal nie eet nie en ‘n mens moet doen wat jy moet doen.

Die viervoetkind is dalk net die grootste vreudgde in haar lewe. Ondeund soos net ‘n Jonghond kan wees. Partykeer kom sy na werk by die huis, dan lê elke potplant kop-onderstebo op die stoep se blokkiesvloer. Volgende week weer is die grasperk toe onder die vere van die stoelkussing wat sy buite vergeet het. Dan raas sy kwaad met Honnekind, maar netnou lag sy weer kliphard wanneer hy wilde esse om haar hardloop, tennisbal wat sy vir hom wil gooi stewig in sy kwylende bek vasgeklem.

Sy neem HondseKind elke paar dae vir ‘n lang wandeling. Dit is goeie oefening vir haar, en hy geniet die stimulasie van reuk en klank buite die grense van sy erf. Tydens een so ‘n stappie gebeur die ondenkbare. ‘n Wrede gebroedsel van ‘n brak ontsnap sonder sy eienaar se wete uit sy erf, stromloop die flukse stapper en haar viervoetkind, en val die lewenslustige honnekind sonder omhaal aan. Die mensema gil beangs, oortuig daarvan dat haar groot mater sy lewe kwyt is. Sy probeer die wrede tande met haar kaal hande keer, en word in die proses self gebyt. Die bure oorkant die pad kom genadiglik op daardie juiste oomblik met hul bakkie verbygery, en stop dadelik om haar te hulp te snel. Hoe almal ook al skreeu en smeek, die hond se kake klem om sy onskuldige prooi en hou vir al wat hy werd is. ‘n Ander ooggetuie kom aangehardloop met ‘n bottel water. Dit word om die bakleiende honde omgekeer, en ten einde laas laat vaar die aanvaller sy missie.

Die vrou en haar verskrikte hond word in die bakkie gelaai en huistoe aangery. By versigtige ondersoek bly dit dat haar geliefde hond sonder groot skade uit die geveg ontsnap het. Sy is egter nie so gelukkig nie. Die bytwond op haar hand het professionele aandag nodig, daar is die talle voorkomende inspuitings, en boonop het haar bril in die slag gebly in haar geskarrel om Honnekind te probeer help. Soos dit is het sy dit nie juis breed nie, en ‘n mediese fonds tel nie onder haar voordele nie.

Ondanks goedgesinde bure se aanbod, dring sy daarop aan om haarself na die hospitaal aan te ry. Heelwat armer en met die vooruitsig van ‘n arsenaal opvolg-besoeke, keer sy uiteindelik huis toe. Almal wat van die voorval hoor verseker haar dat die eienaar van die aanvaller-hond verantwoordelik is vir haar mediese uitgawes, maar sy is huiwerig om die man tromp-op te loop vra. Sy is nie eintlik een vir konfrontasie nie. Iemand stuur ‘n kontaknommer van ‘n kundige wat ingestem het om haar met die proses by te staan, en die hoop dat sy genoeg moed bymekaar sal kry om van die aanbod gebruik te maak.

Laatmiddag vra sy erg verleë vir ‘n buurvrou om hulp om haar hare te was, die bytwond aan haar hand moet ten alle koste droog gehou word. Die vrou hurk oor haar bad se rand, en buurvrou raak doenig met sproeikop en haarwasmiddel. Sy vryf haar hande met ‘n hart vol deernis deur die vrou se hare. Bied daarna aan om te help hare droogblaas, maar daar trek die vrou die streep. Dit kan sy darem mos self regkry, verduidelik sy ferm.

Mag elke klip uit jou pad gerol word, liewe Vrou. Mag jy guns en seën ontvang, sonder dat jy daarna hoef te soek. Mag jou sakke so vol word soos wat jou hart is. Want as daar een mens is wat dit verdien, is dit jy.

This entry was posted in Hartsdinge. Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s