Verlief!

Dit is ‘n lang tyd vandat ek die laaste keer behoorlik verlief was. Ek onthou my en Liefman se eerste afspraak soos gister. Toe hy my hand vat om vir ons ete te bid, het my emosies so hoog geloop dat ek my verbeel het dat ek ampertjies nie asem kan kry nie. Ek het die skoot hoog deur gehad. Nou, na een en twintig jaar saam, beskik hy steeds oor die vermoë om my maag te laat draai wanneer hy op ‘n sekere manier na my kyk. Maar ja, teen hierdie tyd het die ergste verliefdheid darem al oorgewaai… ; ) In die plek daarvan het iets baie moois tussen ons gegroei. ‘n Wedersydse toegeneëntheid, ‘n gemaklike kameradie, ‘n deernis teenoor mekaar, en hope pret en humor! Hy is my gunsteling mens op die hele aarde om by te wees. Dit maak nie saak waar ek in die wêreld is, of wat se storms ek moet trotseer nie – met my man aan my sy is ek okei.

In my jong enkelloper dae het ek baie oor die liefde geleer. Oor party kêreltjies het ek omtrent gedooi, om na ‘n tyd, tot my ontnugtering, agter te kom dat hulle die verhouding nie in dieselfde ernstige lig as ek beskou het nie. Ander kêreltjies weer, was besotlik verlief op my. Sodat ek vinnig besluit het, as ‘n mansmens eers so oor my begin kwyl, word ek blitsvinnig verveeld en verloor belangstelling. Maar tussen my en Liefman is daar balans. Ons is ewe erg oor mekaar. Nie een van ons hoef ten koste van die ander naarstigtelik te bly werk aan die verhouding om te probeer verseker dat die liefdesvlammetjie lewend bly nie. Ons geniet ‘n sekuriteit en veiligheid in ons huwelik wat meer werd is as al die miljoene daarbuite.

In onlangse tye het ek bewus geword van ‘n nuwe gevoel wat in my hart wakker word. Dit het my ‘n tydjie geneem om die effens verroeste emosie te eien, maar toe het ek op ‘n dag besef… hierdie voel wraggies soos verlief wees! Die salige, wolkie-dromerige gevoel wat elke stukkie van my gedagtes in beslag neem. Die objek van my verliefdheid hou gelukkig geen bedreiging vir my man in nie. Sy is immers net amper-vier jaar oud… Van die dag dat ek gehoor het dat sy (uiteindelik) gebore is, en ek my na die hospitaal gehaas het om haar van aangesig tot aangesig te ontmoet, is ek absoluut versot op die kind. Soos wat sy ouer word en ‘n eie persoonlikheid ontwikkel, en voorkeure en afkeure ten opsigte van mense, het ek my begin verkneukel in die ontdekking dat sy ewe mal is oor my. Haar ma klik nou die dag dat die klein mensedogtertjie sê dat ek, haar tannie, ‘darem maar oulik’ is. Dan sug ek so behaaglik soos ‘n bakvissie wie se verliefdgeit beantwoord word.

Soos wat dit alle goeie tannies betaam, kan ek natuurlik geen kwaad in die klein soetpatat sien nie. Haar ma kla partykeer dat die dogtertjie stout is, dan keer ek dat sy maar net bedrywig is. Haar ma sê dat die ou dingetjie ‘n sterk wil het. Dan verduidelik ek dat sy eintlik net op ‘n vroeë ouderdom leierseienskappe openbaar. Soms pas haar ma dissipline toe, dan huil die kleinding jammerlik. Soos wat dit ‘n verstandige tannie betaam, sit ek dan ‘n wag voor my mond en boeie aan my hande, sodat ek nie kan instorm en die lyfieduifie kan red nie. Sy is net so allerfraai en oulik, so dierbaar en ougat! Met suiwer vreugde en pure genot sit die meisiekindjie my hele hart en wese vol.

Ek is so vreeslik baie lief vir jou, Klein Magneet. Dankie dat jy vir my ook lief is.

x♥x♥x♥

This entry was posted in Hartsmense, Liefde. Bookmark the permalink.

1 Response to Verlief!

  1. ‘n Dogtertjie met ‘n tannie wat vir haar lief is en haar bederf, is baie gelukkig ❤

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s