Twee spore

Ek lees eenmaal ‘n skrywe deur Rick Warren, geskryf nadat sy vrou met kanker gediagnoseer is. Warren skryf naamlik dat hy altyd gedink het dat die lewe uit bergtop en diep-vallei ervarings bestaan. Dat dit òf goed met jou gaan, òf sleg. Met sy vrou se kankerpad, het Warren besef dat die lewe soos twee parallellopende treinspore is. Want in die beste tye is daar tòg nog iets wat haper, en in die slegste tòg iets om voor dankbaar te wees.

Ek het dit presies so beleef tydens my ma se onlangs siekte. Tussen al die vrees en spanning en kommer, die jammerte vir my ma se maer figuur in die grote hospitaalbed, die elkedagse rit hospitaal toe, die aanhoudende ge-’biep’ van masjiene in die intensiewe eenheid van die hospitaal, was daar vele ligpunte. Daarvan wil ek in hierdie skrywe vertel.

Die dag nadat my ma in die hospitaal opgeneem is, was die lig in die tonnel maar skraps. Soos wat die dag gevorder het, het my ma se toestand verswak, totdat ek oortuig was dat ons op ‘n tragedie afstuur. Terugvoer van die mediese personeel se kant af was traag, sodat ons teen vroegaand steeds nie ‘n formele diagnose oor die oorsaak van my ma se siekte, ontvang het nie. Ons hele familie was bitter ontsteld en onseker oor hoe om die situasie te hanteer. My swaer het op daardie stadium beheer geneem, en die mediese personeel sterk gekonfronteer en op antwoorde aangedring. Hy het hom keer op keer in ‘n administratiewe muur vasgeloop, maar hy het geweier om kop te gee. Ten einde laas het hy daarin geslaag om in direk telefoniese kontak met my ma se bitter besige en gewilde dokter te kom. Uiteindelik het ons die verlangde diagnose en terugvoer ontvang, wat ons almal nuwe hoop gegee het. Sy optrede maak van my swaer die held van daardie dag.

Vir daardie dokter se kundigheid en toewyding het ek oor die volgende paar dae die wêreldse respek ontwikkel. Dit is die dokter wat my om bykans middernag, nadat hy uiteindelik kans gehad het om my ma se X-strale te bestudeer, geskakel het om geduldig en rustig vir my te verduidelik presies wat met my ma verkeerd is. Dat ‘n operasie binne die volgende paar uur gedoen moet word om dit reg te stel. Dat hy wat die dokter is, in alle eerlikheid nie onweerlegbaar kan sê dat dit die beste aksie in die omstandighede is nie, maar dat hy in konsultasie met sy kollegas, sy oordeel gebruik om by ‘n oplossing uit te kom. Dit is die dokter wat na afloop van die vier-uur lange operasie, weereens in detail vir my verduidelik het presies wat hy alles tydens die operasie gedoen het om my ma se probleme reg te stel. Die dokter wat my en my ma weereens professioneel dog vriendelik ontvang en hanteer het tydens my ma se opvolgbesoek in sy spreekkamer ‘n maand later. Die dokter wat, ek is absoluut oortuig daarvan, waarskynlik my ma se lewe gered het, maar ook jare by haar lewe voeg, en haar lewenskwaliteit daarin verbeter. Ek sal hierdie dokter vir ewig dankbaar bly.

My ma self bly egter die grootste heldin in hierdie verhaal. My ma wat, regdeur tien dae in die hospitaal, wat vyf dae in die intensiewe sorgeenheid om van ingrypende maagchirurgie te herstel insluit, nie een keer kla nie. Selfs nie toe haar hospitaalverblyf my pa se verjaardag en Kersdag insluit nie. Sy het deurtentyd dapper en moedig gebly, haar volle samewerking vir die mediese personeel gegee, en selfs daarin geslaag om haar humorsin deur die proses te behou. Ek het baie respek vir my ma se gesindheid, wat nie almal haar sal kan nadoen nie. Sy bly ‘n merkwaardige mens, en ek is trots daarop om haar dogter te wees.

Dan is daar my sus, wat my ma na haar ontslag uit die hospitaal, met die grootste toewyding en presisie tuis versorg het. Dit terwyl sy self die mamma van ‘n bedrywige kleutertjie is, teen tyd werk om die sperdatum van ‘n uitdagende werksprojek te bereik, en boonop besig is om te oefen vir ‘n maraton met die oog op haar deelname aan haar vyfde Comrades maraton. My sus bly ‘n ware yster, in murg en been.

My hart is dankbaar, dankbaar, dankbaar. Deur hierdie hele proses het ek God se goedheid en genade aanskou en beleef. So dikwels werk God deur engele in mensgewaad.

This entry was posted in Hartsdinge, Hartsmense, Inspirasie. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s