Geveerde vriendjie

Na ‘n langnaweek weg ontdek ons ‘n baie opwindende vonds in ons motorafdak. ‘n Jan-Frederik voëltjie het naamlik besluit om nes te bou op Liefman se werkstafel, en boonop twee fraai blouerige eiertjies daarin te lê. Ons tienerdogter veral, is baie opgetoeë en gaan maak elke dag seker of alles nog in orde is by die voëlnes.

Ek sien nie eintlik een van die geveerde ouers op die eiertjies sit nie, en verloor vinnig belangstelling, met die heimlike oortuiging dat eiertjies wat so min aandag kry, tog nie sal uitbroei nie. Selfs toe ek die Jan-Frederik ma een skemeraand met ‘n wurmpie in die bek bo-op die afdak sien sit, bring ek nie die kloutjie by die oor nie. Totdat Liefkind die volgende dag een allemintige gil gee, buite haarself van opwinding. Toe ons gaan ondersoek instel, lê twee piepklein, redelik grillerige gedoentetjies in die nessie. Pienk en hulpeloos en algeheel veerloos.

Liefkind gaan loer nou sommer ‘n paar keer elke dag by die nessie in, en neem met gereelde tussenposes ‘n foto om die tweetjies se vordering te monitor. Liefman maan dat sy nooit aan die nessie of die kuikentjies moet raak nie, aangesien die ma hulle kan verwerp as sy ‘n vreemde reuk daar gewaar. Na ‘n paar dae rapporteer my dogter besorg dat een kuikentjie baie kleiner as sy sibbie is, en die spesifieke kuikentjie verdwyn ook ‘n paar dae later spoorloos uit die nes, tot Liefkind se ontsteltenis. Liefman verduidelik dat die kleintjie waarskynlik dood is, in welkegeval die mamma hom dan uit die nes sou verwyder.

Die oorblywende kuikentjie kry klaarblyklik genoeg kos van sy mamma, want hy gedy en groei teen ‘n verbysterende tempo. ‘Skoon mooi van lelikgeid’, besluit ek toe ek weer ‘n slag by voëltjie-straat gaan inloer. ‘n Skoolmaat van Liefkind kom kuier op ‘n dag, en word dadelik nes toe gesleep om met die kleine voëltjie te bewonder. Liefkind kom rapporteer ontsteld dat die baba-voëltjie nie in die nes is nie. Onmiddelik kom allerhande donker voorspooksels in my gedagtes op, onder meer dat die klein dingetjie ‘n happie vir die rondloperkat wat dit soms in ons erf waag, geword het. Liefman spoor die kleintjie gelukkig later neffens ‘n stuk gereedskap op die werksbank op. Liefman trek ‘n handskoen oor sy vingers sodat sy reuk nie op die voëltjie kom nie, en besorg hom versigtig terug in die nessie. Maar so wraggies, die volgende middag verlaat hy weer die nessie vir ‘n skropplekkie elders op die werkstafel.

Ek begin heel moederlik oor die klein voëltjie voel. Ek wens dat ek hom liefs tydelik in ‘n hokkie kon hou en toesien dat hy presies genoeg te ete kry totdat hy groot genoeg is om na homself om te sien. Daar kan so baie met so ‘n klein voëltiie gebeur. Waarvan nie die minste sou wees dat hy op een van sy ontdekkingstogte van die tafel affoeter en, behoede my, een van ons per abuis oor hom ry wanneer ons een van die motors uit die afdak trek! Maar dit blyk dat babavoëltjies ook beskermengele het, want toe Liefman die motordeur die volgende dag luid toeklap, fladder die baba sy vlerkies en slaag sowaar daarin om laag oor die breedte van die afdak te vlieg!
Die natuur gaan, per slot van sake, maar sy gang.

Die situasie vergelyk goed met die grootmaak van ‘n mense-baba. ‘n Babatjie wat vir ‘n paar maande hulpeloos is en niks vir homself kan doen nie. Om dan met rasse skrede te ontwikkel, en dan om elke hoek en draai in ‘n potensiëel gevaarlike situasie in te kruip of waggel. Maar dankie Here, die meeste babas oorleef en word verantwoordelike volwassenes wat hul oor hul eie babas kwel.

Miskien, mymer ek laataand, is dit hoe die Here soms oor Sy kinders voel. Kyk hy ook toe hoe Sy kind gevaarlik naby aan ‘n afgrond beweeg. Maar Hy gryp nie in nie, want mense word met ‘n vrye wil geskape. Dalk slaag God ook ‘n sug van verligting as die mensekind op ‘n dag sy vlerke sprei, of sy eerste geestelike treë gee. Want dit is mos maar die verloop van die lewe. Mag ek my Ewige Ouer trots maak, deur Sy genade en troue sorg in my lewe.

This entry was posted in Ligweg. Bookmark the permalink.

1 Response to Geveerde vriendjie

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s