Vyftien!

Ek moet erken dat ek iewat huiwerig voor jou tienerskap getalm het. Kom ons wees nou maar eerlik daaroor, oor die meerderheid van tieners word steen en been gekla. Die indruk word geskep dat die meeste tieners dikbek en egosentriese luigatte is. My mede-mamma-kollegas het my gewaarsku dat die veertiende jaar die ergste is, maar dat ‘n tiener darem hier rondom sestien jaar weer mens word.

Ek het my gehaas om die ouboet van Ross Campbell se ‘How to really life your child’ aan te koop, genaamd ‘How to really love your teenager’. Saam met ‘n hele arsenaal bykomende leesstof oor die grootmaak van tieners, het ek myself vir hierdie nuwe, onbekende, (selfs vreesaanjaende) fase in ons verhouding probeer voorberei. Een van die boeke het my verseker dat ek ‘n moeilike tiener reeds in haar tweede lewensjaar sal eien. ‘n Liewe, inskliklike, voorbeeldige kind verander ook darem nou nie oornag in ‘n monsteragtige tiener nie. Ek is baie bly en dankbaar dat jy daardie stelling korrek bewys het!

Natuurlik het die tienerjare veranderinge gebring. Jou dogtertjielyfie het ontluik tot die van ‘n jonge dame. Jy vorm jou eie opinies en menings oor dinge, en kan dit heel passievol beredeneer. Jy sien die seunskinders in jou omgewing ook nou in ‘n ander lig. Die meeste van hulle vind jy erg irriterend. Maar te oordeel aan hoe baie jy van daardie enetjie praat wat jou hart so vinnig laat klop, ly jy ongetwyfeld op hierdie stadiu aan ‘n ernstige graad van muisneste…

Onlangs lees ek ‘n vraelys op Facebook raak wat kinders rakende hul ouers moet invul, en gaan dit, net vir die pret, met jou deur.
‘What do you find most annoying about me?’, lees ek een van die vrae hardop vir jou voor.
Jy weier laggend om te antwoord, en toe ek aandring, antwoord jy iewat teënsinnig:
‘As Mamma so aanhou en aanhou oor iets’.
Laggend erken ek dat ek die aantyging nie kan ontken nie. En onthou met ‘n tikkie binnepret hoe ek en my tienervriendinne ‘n ewigheid gelede ons lot by mekaar bekla het:
‘My Ma is net mooi die hele tyd op my case – oor alles!’.
Om ewewig aan die negatiewe vraag te verleen, vra ek toe wat jy van my waardeer.
Jou antwoord kom sonder huiwering, “Al die chats”.
Jou woorde gaan lê in ‘n salige warm kolletjie in ‘n sagte holte van my hart. Indien enigiets, het ons hegte verhouding tot ‘n nòg mooier en dieper dimensie gegroei met jou tienerjare saam.

Dankie vir die dogter wat jy vir my en jou pappa is. Dankie dat jy altyd help skottelgoedwas sonder dat ek hoef te dra. Dat jy elke aand die tafel dek. Dat jy jou geheime met my deel, en ag slaan wanneer ek raad gee oor hartsake. Dat jy daarvan hou om by my te wees. Al lyk jou slaapkamer soms soos ‘n oorlogsone, dink ek steeds jy is ‘n besonder liewe en voorbeeldige tiener. ‘n Absolute modelkind.

Baie geluk met jou vyftiende verjaardag, LiefsteKind! Mag al jou drome waar word, en mag die realiteit daarvan beter en mooier wees as wat jy jou in jou soetste verbeeldingvlugte kan voorstel. En mag ek en jy elke jaar al hoe liewer vir mekaar word.

This entry was posted in Liefkind. Bookmark the permalink.

1 Response to Vyftien!

  1. Veels geluk met die verjaarsdag!

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s