Perspektief

Ek verkneukel my aan die verskillende perspektiewe wat geopenbaar word wanneer ek die familie nooi vir koffie by ons plaaslike kwekery.

Die kleutertjie se ogies blink by aanskoue van die apparate wat die speelgronde volstaan. Daar is klimrame, swaaie, hobbelperdjies en glyplanke waarop sy haarself na hartelus kan vermaak. Sy ry vir die eerste keer ooit op ‘n regte-egte ponieperdjie, en toe sy ‘n selfde-hoogte dogtertjie aan ‘n draairoomys sien lek, wil sy opsluit en op die daad ook een hê. Haar tannie kan nie gou genoeg haar beursie oopkry om aan elke versoek te voldoen nie. Daardie Klein Magneet is immers haar hart se punt, en o tog so mal oor lekker speel!

Die tienerkind haas haar eers na die kwekery se inhuise troeteldierwinkel om te kyk of daar dalk ‘n babahondjie in die te-koop hok is wat sy kan vertroetel. Sy word nie teleurgestel nie, en maak dadelik somme om te kyk of sy die wolgevreetjie kan huis toe neem. Haar pretbederwer-ma keer egter sonder omhaal ‘n emmer yskaswater oor haar entoesiasme om. Verdere troeteldiere moet maar wag totdat die tiener eendag in haar eie nessie woon. Die tiener is gelukkig nie iemand wat lank oor ‘n saak tob nie, en begewe haarself in ‘n klere-winkel waar sy voor ‘n beeldskone wit rok stelling inneem en vir ‘n paar oomblikke soete toekomsdrome droom. Dan kry sy oplaas haar sit in ‘n restaurant, waar sy haar tyd neem om deur al die verleidelike opsies te kwyl. Sy besluit op ‘n Ferrero-Roche melkskommel, wat sy met toe oë, al sugtend en smakkend, geniet. Haar onbevredigbare lus vir soete genietinge tydelik bevredig.

Die oupa se fokus word totaal en al deur die talle plante op vertoon in beslag geneem. Hy loop heen en weer, kruis en dwars, maak seker dat hy nie ‘n enkele gangetjie miskyk nie. Buk laag af om oogkontak met ‘n eksotiese rooiblaar plant te maak. Vryf sag liefkosend oor ‘n groen blaar, ruik op uitnodiging aan ‘n verruklike lilakleurige blom. En, boerseun in murg en been, gaan hy in sy gedagtes dadelik oor tot aksie. Hy plant entoesiasties, versorg toegewyd, en verlustig hom in die oes van skoonheid wat hy eiehandig tot stand gebring het. Hy is nie meer jonk in jare nie, maar hy is nie bang om te droom nie, en nog minder om die werk te doen om sy tuindrome waar te maak. Vir hierdie man, simboliseer ‘n besoek aan ‘n kwekery potensiaal!

Dit is die oumatjie se eerste uitstappie nadat sy onlangs ‘n onverwagse draai in die hospitaal gemaak het. Dinge het daar amper sleg skeef geloop, op ‘n ingrypende operasie en ‘n klompie dae in ICU was sy nie heeltemal voorbereid nie – wie is ooit? Die oumenslyf is benerig en broos toe ek haar met die groetslag teen my vasdruk. Maar sy is op die herstelpad, en ons harte loop oor van dankbaarheid vir die geleentheid om tyd met haar te kan spandeer. Dit kon anders gewees het. Sy bestel ‘n sonder-fieterjasie-drinkdingetjie, en gee hoor oor aan geselsies en gemeensaamheid. Toe dit tyd word om elk in sy eie rigting huiswaarts te keer, sê sy, ‘dit was nou so lekker, dit laat die ou gemoed sommer ook weer beter voel’. Vir haar beteken die besoek aan die kwekery ‘n geleentheid om geliefd en spesiaal te voel, om ‘n slag uit die huis te kom en deel van die lewe te wees.

Ek is in murg en been ‘n familie-mens. My mense anker my, gee doel en rede aan my bestaan. Om hulle dop te hou op so ‘n middag, te sien hoe elkeen op sy eie, unieke manier plesier vind in ‘n eenvoudige uitstappie, gee my vreugde. Dit is werklik ‘n voorreg – een wat my sommer dadelik laat begin beplan aan ‘n volgende keer!

This entry was posted in Hartsmense. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s