Wegkruipertjie

Dit is groot pret wanneer die vierjarige Magneet my nooi om saam met haar wegkruipertjie te speel. Ek maak sommer op die bank waarop ek sit oë toe en begin hardop tel, waarop sy vervaard keer. ‘Jy kan nie híér tel nie!’. Op my verbaasde ‘hoekom nie?’, antwoord sy ewe: ‘Want ek wil daar wegkruip’.

Ek gee gelyk, en toe ek klaar getel het, staan sy oop en bloot handeviervoet op die bank, kop onder ‘n kussing weggesteek. Sy is duidelik ‘n aanhanger van die ‘as ek jou nie kan sien nie, kan jy my ook nie sien nie’-teorie. Ek sluk my lag en soek met groot gebaar en luide kommentaar na haar deur die huis. Wyl sy al giggelend toeluister. Totdat ek haar kamma eindelik opspoor, en haar kielie totdat sy haarself wriemelend loswikkel.

Toe die soek-my-kry-my speletjie later eentonig raak, leer ek haar die volgende hoofstuk. Sy is dadelik gek daaroor, en wag ongeduldig dat ek klaar tel, sodat sy kan gil, ‘Blok myself!’, en vir effek dan omswaai om weg te spandeer. Haar Mamma leer haar om my pogings te troef met ‘n ‘Blok vir Tannie!’, wat sy met groot gelag beproef.

Soos wat dit ‘n goeie tannie betaam, maak ek seker dat sy elke keer die oorhand oor my kry. Toe ek later groet om huiswaarts te keer, stap sy saam met die hele familie na die deur om my af te sien. Ek kan die versoeking nie weerstaan nie, swaai om, nael terug na die wegkruipertjie muur, en gil uitgelate, ‘Blok myself!’

Sy sug luid, en stap doelgerig na my toe. Sy kyk skrams op na my en fel haar beslissing. ‘Jy het nou einlik getoet!’ Ek skommel die letters blitsig terug na kleutertaal, en erken met ‘n geveinsde askies-gesig. ‘Jy is heeltemal reg. Ek het gekroek’.

Lekker verjaar, liefste Klein Magneet’. Dit is groot pret om jou wegkruip-maatjie te wees.

This entry was posted in Hartsmense. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s