Dubbele vreugde

Terugflits

Ek maak haar donkeroggend wakker. Sy staan iewat traag op, maar trek nietemin aan en eet ontbyt sonder om een keer te mor omdat sy sò vroeg moet opstaan op ‘n Saterdagoggend. Tieners is immers bekend daarvoor dat hulle ‘n spesie is wat hou van laat slaap – soggens en snags!

Ons klim in die motor en oomblikke word die ruimte gevul met polsende tienermusiek. Weens herhaardelike blootstelling het die liedjies waarna sy graag luister met die tyd saam op my gegroei, sodat ek ook nou al luistergenot daaruit put. Om haar so ‘n bietjie te terg gooi ek my arms in die lug en pluk my lyf in dansbeweging rond, sommer net daar agter die stuurwiel in die donker strate waardeur ons ry. ‘Mamma…!’, keer sy soos altyd, erg verleë, al is daar nie ‘n siel in sig om my dop te hou nie.

Ons ry oor die lengte van die stad, en ry ons in die ‘venue’ waar die padwedloop aangebied word, in ‘n verkeersknoop vas, ondans die onwaarskynlike uur van die dag vir so ‘n gebeurlikheid. Hardlopers is ‘n spesie met vreemde gewoontes… Ons soek ‘n tydjie lank na parkeerplek, maar oplaas het die motor ‘n gaatjie, en ons haas ons na die kleedkamer vir ‘n laaste draadjie voordat die wedloop ‘n aanvang neem. Die tou beweeg stadig, en sy besluit dat sy sonder die draadjie kan klaarkom, en neem haar plek in tussen die hardlopers. Met enkele minute om te spaar breek my beurt aan, ek woerts-warts blitsig deur die hokkie, en vind my wegspringplekkie toe die aankondiger reeds besig is om die roete wat ons gaan hardloop, te verduidelik. Sy moes ‘n oog op my gehou het, want sy trek my aandag en roep my ‘n paar treë vorentoe sodat ons saam kan wegspring.

Sy is nou vinniger as ek, en hardloop die eerste klomp kilometers gemaklik onder my uit. Ek is met uithouvermoë nog een voor, en teen die tweede helfte van die wedloop hardloop ek haar weer in. Ons hardloop nou sy aan sy. By die voorlaaste kilometer draai sy die krane oop, maar ek hou gemaklik by haar. Ek trap versigtig om die modderpoele in die veld oor die laaste vyfhonderd meter na die vorige nag se swaar reën, en sy hardloop ligvoets by my verby. Sy kom ‘n minuut of wat voor my by die wenstreep aan.

Na die wedloop gaan sit ons op ‘n lae muurtjie om ‘n koeldrankie te sluk en ons asems terug te kry. Haar oë blink en haar gesig straal toe sy haar belewenis van die wedloop met my deel. ‘Om te hardloop, is seker die naaste wat ‘n mens aan vlieg kan kom. Ek LOVE dit!!!’

En ek…? Ek voel soos die gelukkigste moeder op aarde, om my gunsteling-tydverdryf, my sportbeoefening-van-voorkeur, en my liefde en passie vir hardloop met my tienerdogter te kan deel. Gedeelde genot verdubbel die vreugde.

Dankie Liefkind, mag daar vele gedeelde (hardloop)-avonture op die twee van ons wag.

This entry was posted in Hardloop, Liefkind. Bookmark the permalink.

1 Response to Dubbele vreugde

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s