Seisoene

‘Ja-nee, oudword is nie vir sissies’, kla ‘n kollega gereeld met ‘n swaar gemoed.

Sy is met slegs enkele jare my senior, maar ek staan op presies die teenoorgestelde teenpool van die opinie-skaal as sy.

Ek is tans in my laat-veertigs, en beskou dit as die beste seisoen tot nog van my ganse lewe.

My twintigs was die dekade van Projek Man-Soek. Dit was geen eenvoudige storie nie! Want is ek been-af op hom, is hy nie heeltemal so gek na my nie. Of loer hy leep-oog na my, voel ek bloot platonies oor hom. My ander vriendinne was later almal veilig gestrop, en ek het benoud begin wonder of my ewige lotsbestemming die van raksitter sou wees. Maar toe ek dit die minste verwag, verskyn HY op my horison. Ek het na hom geloer en gedink, ‘WOW’! Hy het homself met ‘n verspotte kniebuigingtjie aan my voorgestel, en my doppie was geklink. Hy het my in ‘n warrelwind van blomme en afsprake van my voete af die hof gemaak. Ons twintigste huweliksherdenking is reeds verby, en ons twee is nog net so gek na mekaar. Maar die feit bly staan, ek is bly die ingewikkeldhede van Projek Man-Soek is ver in my verlede…

My dertigs was die dekade van Operasie Baba-Maak. Vergeleke met Operasie Baba-Maak, was Projek Man-Soek ‘n piekniek… Sjoe, die pad na swangerskap was besaai met dorings en rotse. Ek was later moedeloos en emosioneel totaal uitgeput van al die gesukkel. Die natuur wou glad nie saamspeel nie, en ek het later soos ‘n totale mislukking as vrou gevoel. Oplaas het ons die mediese wetenskap ingespan, ‘n diagnose is gemaak, ‘n spul operasies het gevolg, en ses behandelingsiklusse het uiteindelik toe darem op een suksesvolle swangerskap uitgeloop. Ek is in my hart ter harte oortuig dat my dogter ‘n wonderwerk uit die hand van die Here is, uitgekontrakteer aan ‘n knap mediese span. My dogter is nou ‘n lieflike tienermeisiekind wat my en haar Pappa se harte vol sit en ons elke dag met vreugde bestrooi. Ek is bevoorreg en geseënd, sowaar. Hoe dit ook al sy, ek is dankVader bly dat my dertigs ver agter my lê. Dit was jare van tranedal en gereeld op moed verloor se vlakte draai. Van wonde lek, opstaan, afstof en weer en weer probeer. Gewis nie vir sissies nie…

Vergeleke met Projek Man-Soek en Operasie Baba-Maak, is my veertigs een groot fees! Die baba is ‘n tiener, sterk op pad na onafhanklikheid, en hoewel iewat van ‘n geldvreter, glad nie so arbeidsintensief om te onderhou as in haar jonger jare nie. Om die waarheid te sê, neem sy baie maal werkies uit my hande. Sy dra tee aan en dek elke aand die etenstafel, sy weet hoe om ‘n geurige spinasiesop (sonder ‘n resep) aanmekaar te slaan, en bederf ons selfs so dan en wan deur vir ons nagereg te maak of ‘n koek te bak! Die kind is louter vreugde, maar dan weer, dit was sy nog altyd, selfs aan die heel begin toe sy dalk ‘n bietjie meer arbeidsintensief was.

Ek sien baie uit na my vyftigste verjaardag. 50! Wat ‘n mylpaal. Dit help sekerlik baie dat ek gesond en aktief is, dat ek gek is na oefen en (meestal) jonk en lewenskragtig voel. Ek is gevestig in my beroep, gelukkig getroud en ma van ‘n allerliefste meisiekind. My twintigs en dertigs het bewys dat die lewe nie altyd maanskyn en rose is nie, maar dit het ook bewys dat moeilike tye verbygaan, dat elke donker wolk ‘n silwer randjie het, en dat die son weer sal skyn.

God is goed en getrou, in goeie én slegte tye. Dit is vir my genoeg.

This entry was posted in Ligweg. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s