Innerlike geluk

‘The evident power of beauty’ met subtitel ‘Science and Theology meet’ deur Thomas Duby, S.M. is nie maklike leesstof nie. Deels as gevolg van ongewone taalgebruik en lang, moeilik verstaanbare sinne, en deels met die onderwerp van wetenskap waar ek nie baie blootstelling aan het nie, neem dit stadig en versigtig lees om die outeur se gedagterigting te snap en te bly volg. Ten spyte daarvan vind ek die boek fassinerend en intellektueel uiters stimulerend. Die boek is aanbeveel deur die Amerikaanse skrywer, Neil T. Anderson, van wie ek en my man oor baie jare heen al groot aanhangers is, en daarom ‘n moet-lees in ons boeke.

Vroeg in die boek skryf die outeur oor mense wat oënskynlik glad nie die mooi in die lewe raaksien nie, en selfs nie ontvanklik is daarvoor nie. Hulle lewe is ‘n kolosale ‘blah’, lees ek sy beskrywend al giggelend. Vervelig en vaal. In dieselfde lyn lees ek onlangs ‘n fassinerende stelling op sosiale media oor die onderwerp van minimalisme:

‘Happiness is not to be chased, happiness is to be realized’.

Daar is groot waarheid in die stelling. Die mooi van die lewe is oral om ons. En ook in ons, deur die teenwoordigheid van Heilige Gees. Al wat dit kos om in ‘n oomblik gelukkig te wees, is om stil te word en dit raak te sien en raak te vat.

Liefman steek altyd die draak met een van ons stapmaats, wat om elke hoek en draai gedurende ‘n stapstog gaan stilstaan en in verrukking uitroep: ‘Kyk die mooi blommetjie / blaartjie / voëltjie!’. Ek dink dit is ‘n besonder mooi eienskap in haar. Ek put self baie vreugde uit die natuur. Om oor ‘n mooi wolkformasie, ‘n sonsopkoms of -ondergang, ‘n voël in vlug of ‘n statige boom liries te kan raak, bring my eindelose genot. Elke seisoen bring sy eie mooi – sodat ek dadelik ‘n foto daarvan neem en op sosiale media deel. Daar is iets byna heiligs aan, om stil te raak in ‘n oomblik en God se nabyheid daarin te beleef. Om aktief en doelbewus te soek na skoonheid wat oomblikke mooi maak, bou vrede in my gemoed en verfraai my lewe.

In nog ‘n uiters insiggewende boek wat ek tans lees, ‘Rewire your anxious brain’, deel die skrywer dat dit nie ‘n situasie is wat negatiewe emosie ontlok nie, maar die manier waarop ek die situasie intepreteer. Dit neem ‘n besondere volwasse benadering om hierdie stelling te aanvaar, want dit beteken dat die self in effek verantwoordelikheid moet neem vir elke emosie wat ervaar word. Emosie op sigself is nie verkeerd nie, maar ek smag na ‘n stabiele vloei van vrede en innerlike gemoedsrus in my lewe. Soos wat John Lubbock tereg skryf: ‘A day of worry is more exhausting than a week of work.’ Die waarheid is dat dit net ekself is wat toelaat dat spanning en negatiwiteit my tydig en ontydig bekruip, en daarom is die harde werk om my vrede te behou, net my eie.

Die lewe is meestal nie so moeilik en ingewikkeld as wat ek myself soms wysmaak nie. Om dag vir dag, een dag op ‘n slag, te leef, om bewus te bly van God se liefde en sorg, om myself oor te gee aan al die mooi wat die lewe bied – daarin lê die kuns van gelukkig wees.

This entry was posted in Mymeringe. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s