Klippie in my sak

So breek nog ‘n verjaardag aan. Hierdie jaar bring die dag se onthou eers net ‘n vae hartseer. Dan sien ek die verjaardag-kennisgewing op Facebook, waar ek en jy steeds maters is. Liefman laat weet dat sy elektroniese kalender ook vir hom van jou verjaardag onthou het.

Jy sou vyf en vyftig gewees het vandag. Amper ses jaar al dat jy weg is. Soos wat die dag vorder en die onthou van mooiste tye na die oppervlak van my bewuste brein spring, vou die hartseer my in ‘n droefgeestige kombers toe. Totdat trane agter my oë brand.

Dit is goed en reg so. Vandag is jou dag. Vandag wíl ek jou onthou. Na jou verlang. Jou eer vir wie jy was. Steeds is. Want die dood maak nie die liefde, die toegeneëntheid, minder nie.

Danny Fourie beskryf dit so mooi in sy boek, Vir ewig en altyd, wat hy na die kankerdood van sy vrou geskryf het. Verlies, skryf hy, word naderhand soos ‘n klippie wat jy in jou sak saamdra. Jy vergeet later half daarvan, vir lang tye aaneen. Maar dan, op ‘n dag, steek jy jou hand in jou sak en vat die klippie raak. ‘O dis jy’, sal jy sê. Die hartseer van die onthou is nie meer so fel en intens soos aan die heel begin nie, maar dit sal nooit heeltemal weg wees nie. Ons sal altyd mense wees wat iemand baie spesiaals aan die dood afgestaan het.

Vandag se onthou en hartseer voel goed en reg. Ek wil op jou spesiale dae die klippie in my sak raakvat. Ek wil jou onthou om jou nooit te vergeet nie.

Jou plek in ons harte staan vas. So sal dit vir altyd bly.

This entry was posted in Hemellinge. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s