Die brein en angstigheid

Ek sukkel nogal met angstigheid.   Dikwels sonder dat ek eers regtig weet waaroor ek so stres.    Ek ontdek toe die e-boek ‘Rewire you anxious brain’ deur Cathering M Pittman en Elizabeth M. Karle.   Die boek gaan oor die beginsel van breinwetenskap in terme van angstigheid, uiters leersaam, insiggewend en absoluut fassinerende leesstof.  

Die outeur skryf dat angstigheid twee plekke van oorsprong in die brein het.   Die eerste is die cortex, waarvan die meeste van ons weet.   Dit is wanneer angstigheid veroorsaak word deur gedagtes wat by jou opkom, maar ook jou intepretasie van ‘n situasie.    Dit is belangrik om nie elke gedagte as waar en korrek te beskou nie, maar dit te evalueer.    Dit ondersteun die Bybelse ‘neem elke gedagte gevange…’-beginsel.    Om net bewus te wees van wat ek dink, en hoekom ek dit dink, het alreeds ‘n baie positiewe uitwerking op my doelwit om spanning in my lewe te verminder.   Die cortex kan ook ingespan word om gedagtes wat spanning ontlok, hok te slaan.   Wanneer ek bewus word dat ek ‘n negatiewe insident oor en oor in my gedagtes herleef, kan ek hardop sê:  ‘STOP!’, en doelbewus my gedagtes in ‘n meer positiewe rigting kanaliseer.    Ek het beheer oor my gedagtes, wat ‘n bevrydende wete.   Dit is nie ‘n maklike proses nie, maar ek kan met oefening leer om my gedagtes positief te kanaliseer.   Gedurende so ‘n proses word nuwe verbindings tussen neurone in die brein gebou, wat uiteindelik tot gevolg kan hê dat ek later ‘n meer positiewe en kalmer mens word.

Die hoofstukke oor hoe die amygdala in die brein angstigheid veroorsaak, was vir my nuus, en iets wat lig vir my laat deurbreek het oor my angstigheid.   Die amygdala evalueer konstant elke situasie in my dag, en wanneer ‘n potensiële gevaarlike situasie waargeneem word, inisieer dit die vlug, veg of vries reaksie.    Die probleem is dat situasies wat nie werklik gevaarlik is nie, soos om ‘n toespraak voor ‘n gehoor te lewer, ook deur die amygdala as ‘n gevaarsituasie vertolk kan word.    Wat baie insiggewend is, is dat die amygdala gevaarsituasies onthou, en dan in elke daaropvolgende situasie weer simptome van angstigheid, soos vlak asemhaling en vinnige hartklop, veroorsaak.    Ek is byvoorbeeld tot vandag toe nog baie bang vir groot honde, omdat my klein, wollerige troetelhondjjes ‘n keer of wat deur my pa se groot, kwaai waghonde gebyt, en uiteindelik doodgebyt is.    Ek is lief vir draf, en sal gedurig my omgewing ‘scan’ om seker te maak elke erf se hek is toe, sodat ek nie dalk deur ‘n hond gebyt kan word nie.      My amygdala beskou dus elke groot hond as ‘n potensiële gevaarsituasie, en skei by die gewaar van ‘n hond, selfs agter ‘n heining, hormone af wat my liggaam voorberei vir ‘n veg, vlug of  vriesreaksie.    Die boek beveel aan dat hierdie vrese deur blootstelling hanteer moet word.   Ek kan, in hierdie geval, ‘n groot, vriendelike hond se kop gaan streel, sodat my amygdala, met genoeg herhaling hiervan, nuwe brein-verbindings kan vorm dat nie alle groot honde gevaarlik is nie, en dat ek eers simptome van angstigheid hoef te beleef wanneer ‘n hond my bestorm.   

Voorts kan die amygdala, reeds geaktiveer en in die proses waar ek angstigheid beleef, nie deur logiese denke tot bedaring gebring word nie, omdat daar nie ‘n sterk verbinding tussen die cortex, waar denke plaasvind, en die amygdala is nie.   Die manier waarop ek die geaktiveerde amygdala kalmeer, is deur fisiese dinge soos diep, beheerde, ritmiese asemhaling en deur doelbewus my spiere te ontspan.   Fisiese oefening is in so ‘n geval ook uiters effektief, aangesien dit die liggaam in staat stel om die veg of vlug impuls uit te voer.    Om na rustige musiek te luister kan ook help, of deur visualisering toe te pas, byvoorbeeld om aan ‘n plek terug te dink waar ek besonder ontspanne en vol vrede voel, in my geval soos om langs die see te stap.   

In hierdie tyd lees ek ook ‘Running Scared’ deur Edward Welsch. Hier word God, wat alles weet en werklik omgee, ook by die strewe om kalmte betrek. God wat, meer as oor enige ander onderwerp in die Bybel, sê ‘Moenie bang wees nie.’ Die outeur verduidelik dat bekommernis en angstigheid altyd oor dinge gaan wat ek vrees in die toekoms gaan gebeur. Maar wat in die meeste gevalle nooit gebeur nie, wat die spanning daaroor futiel maak. Soos met die manna in die woestyn, gee God elke oggend genade (grace) slegs vir daardie spesifieke dag. Daarom, al word my grootste vrees waar, sal God my dan, in die situasie, gee wat ek nodig het om dit te hanteer. Selfs iets goed skep daaruit, hoeveel getuienisse het ek al ter bevestiging daarvan gehoor.

Your mercies are new every morning, great is thy faithfulness ..

This entry was posted in Leefstyl. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s