Dis omtrent ‘n wonderwerk!

Ek sukkel al vir ‘n geruime tyd met die pyn in my laer buik.  Ek is behoorlik van bakboord na stuurboord om ‘n mediese verklaring en geskikte behandeling daarvoor te kry.  Die diagnoses het gewissel van ‘n blaasinfeksie, my baarmoederwand wat verdun as gevolg van ouderdom, en littekenweefsel as gevolg van die vele operasies wat ek ondergaan het om vrugbaarheidskwessies aan te spreek.  Nie een behandelingopsie het standhoudende resultate gelewer nie, en die pyn het elke keer maar weer die-kat-kom-terug gespeel.  Ek het berus daarby dat ek en die pynpille wat ek daarvoor gebruik, lewenslank vriende sal moet bly.

Iewers in die proses het my man vir dr Ken Berry op sosiale media ontdek.  Hy is ‘n hoogs ervare Amerikaanse dokter wat vas glo dat dieet gebruik kan word om menige gesondheidskwessies aan te spreek.  Dr Berry was self erg oorgewig en ‘n diabeet, maar het die toestand omgekeer deur eers die Keto, en later die Karnivoriese eetplan te volg.  Die eetplan word dan met die ‘intermittent fasting’ beginsel gekombineer.  My man het besluit om dr Berry se voorbeeld te volg.  Ek wou self dolgraag ‘n paar kilogramme afskud, en het besluit om te kyk hoe die eetplan vir my werk.

Die resultate is verstommend.  Nadat ek vir twee maande daagliks ‘n sestien-uur lange vas doen – vanaf ag uur saans tot twaalf uur die volgende middag, gekombineer met ‘n hoofsaaklik Keto-eetplan, het ek ‘n allemintige ag kilogram in my gewig afgeskud.  My Body Mass Index het ook met 2.5 punte gedaal.  My man, wat self ‘n goeie klomp gewig afgeskud het, komplimenteer my dat ek nou weer die liggaamsbou van ‘n jong meisie het.   Ek is erg trots op wat ek vermag het.  Die beste deel is dat dit nie eers besonder moeilik is nie.  Keto berus op ‘n lae-koolhidraat hoë-vet beginsel.  Alle maaltye word gemaak deur slegs voedsel in sy natuurlike vorm te gebruik.  Die hoë-vetinhoud maak alle maaltye ryk, vullend, heilsaam en uiters smaaklik.  Na die daaglikse sestien-uur vasperiode kan tot drie maaltye gedurende die res van die dag geëet word, so dit is werklik nie ‘n hongerly eetplan nie.

Die beste resultaat is egter dat ek eers na die tweede maand op die Keto-eetplan agterkom dat ek glad nie meer medikasie vir die pyn in my laer-buik nodig het nie. Ek is nou reeds vir ‘n maand pynvry, die pyn waarmee ek nou al vir etlike jare sukkel, het eenvoudig soos mis voor die son verdwyn! In lyn met dr Berry se video-lesings, vermoed ek dat die rede daarvoor is dat ek nie meer koolhidrate, wat in wese inflammasie in die liggaam veroorsaak, eet nie. Daarbenewens verminder die lang daaglikse vas-periode ook inflammasie in die liggaam!

Hoe dit ook al sy, ek is erg in my noppies en baie dankbaar vir die uitstekende toedrag van sake en dieetgewys sal ek nooit weer terugkyk nie.

This entry was posted in Leefstyl. Bookmark the permalink.

3 Responses to Dis omtrent ‘n wonderwerk!

  1. Toortsie sê:

    Ek is regtig bly om te hoor! Ek volg Banting nou al 6 jaar nadat ek ook gebid het vir ‘n oplossing. Banting is mos redelik soortgelyk aan keto. Ek sukkel nog om intermittent fasting te doen. Ek kry dit wel reg om soms vur 24 uur te vas. Ek dink ek moet nou weer ernstig na ‘n daaglikse 16 ure vas te kyk.

    • johannavr7 sê:

      Ek gebruik jou resepteboeke! Die daaglikse 16-ure vas was moeilik die eerste twee weke, ‘n maand later is dit tweede natuur. Party mense eet laatmiddag en dan weer ontbyt, maar ek is dan weer honger teen slaaptyd. Dus eet ek saans, slaan ontbyt oor en dan rondom 12h ‘n middagmaal met substansie. Luister gerus op Youtube wat dr Ken Berry oor Intermittent fasting sê, goeie motivering.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s