Klavierlesse vir ‘n kleuter

My eerste impuls was om die versoek om vir ‘n vierjarige familielid klavierlesse aan te bied, te weier.   Ek is erg oor die klein kordaat en nog meer so oor haar mamma, maar hoewel ek formele akkreditasie het vir musiekonderrig op beginnersvlak, het ek minimale ondervinding in die verband, en is my klaviervingers ook iewat verroes.  Toe ek rustig oor die saak begin dink, raak ek tóg lus vir die nuwe uitdaging.  As ek ‘n goeie musiekboek kry om my leiding te gee, sal dit doenbaar wees, praat ek myself moed in.   Hoewel verroes op praktiese vlak, skort daar niks met my teoretiese musiekkennis nie.

So gedag is so gemaak, en die volgende dag bestorm ek my naaste musiekwinkel.  Tot my vreugdevolle verbasing is die ‘Dozen a day’ reeks, waaruit ek self donkiejare gelede geleer klavier speel het, sowaar steeds in omloop.  Ek skaf die boekie terstond aan, en dis ‘n groot dag toe die eerste les plaasvind, met haar mamma wat opgewonde foto’s neem van die heerlike mylpaal in haar dogtertjie se lewe.

Ek vind oor die volgende weke dat my studentjie haar klavierlesse ywerig, slim en met die broodnodige entoesiasme benader.  Daar is wel ‘n paar hindernisse op die musiekpad.  Die grootste daarvan is dat die alfabet net maar ‘n vae begrip vir die meeste vierjariges is.  Die musiekalfabet is net sewe letters lank, begin by C, loop tot by G, en sluit af met A en B.  Dit is verwarrend genoeg selfs vir ‘n jong kind wat reeds die alfabet ken.  Ek werk stadig en met baie herhaling om die nootname in die kleine koppie te vestig.  Die F-A-C-E akroniem wat toentertyd gebruik is vir die regterhand se note in die spasies van die notebalk is nie bruikbaar vir kleuters wat nog nie kan spel nie.   Dit vra oorspronklik dink vir rympies waarmee kleuters kan identifiseer.  Gelukkig kry ek ‘n werkbare alternatief uit die karaktername van die Frozen fliek, waaroor die aspatat gaande is.

Ek neem ewe ‘n musiekteorie boekie saam vir die eerste les sodat die poplap ook kan leer om musiek te skryf.  Maar kom vinnig agter dat die hand-oog koördinasie om klein, supernetjiese note en sleutels op ‘n pikante notebalk te skryf, op hierdie stadium nog bo my studentjie se vermoëns lê.  Om die probleem te omseil trek ek ‘n vyf-reël tabel in ‘n woordverwerkingspakket op my rekenaar, om as tussentydse notebalk te dien.  Vir die eerste paar lesse gebruik ek ‘n ‘connect the dots’ metode, in kombinasie met vrolike kleurpotlode, om Operasie Musiekskryf kleutervriendelik te maak.  Groot is hierdie informele juffrou se trots toe die klein pikkewyn slegs enkele lesse later die ingewikkelde krulle en draaie van die G-sleutel onafhanklik en eiehandig geskryf kry.

Ek kom baie vinnig agter dat die dertig-minute lange weeklikse lesse waarop ek en haar mamma ooreengekom het, die kleintjie se aandagspan oorskat het. Om klavier te leer speel verg intense konsentrasie, en na vyftien minute begin my leerling se konsentrasie taan. Ek rek die les nie veel langer daarna uit nie, dis is belangrik dat sy die lesse geniet en positief daaroor voel. Ek probeer die lestye interessant hou deur die verskillende fasette van musiekonderrig te varieer. Eers speel ons ‘n toonleer, daarna ‘n tegniese stukkie uit Dozan a day, dan skryf ons vir ‘n rukkie musiek, en sluit af met ‘n ligte en vrolike melodie. Die kort lesse vereis dat ek baie goed voorberei, daar is nie tyd vir ‘n gewonder wat volgende kom in die beperkte lestyd nie.

Ek geniet die nuwe belewenis erg baie, en dis toonkrul lekker wanneer my jong leerling ‘n nuwe vaardigheid bemeester. Sy self skrik nie vir ‘n uitdaging nie, en het genoeg wilskrag om C-majeur oor en oor te speel totdat die derde vingertjie geredelik onderdeur glip en bo-oor klim.

Dankie kleine mejuffroutjie, jy maak ‘n nuwe wêreld vir hierdie onervare, verroeste musiekjuffer oop. Mag die kuns van musiekmaak jou lewe verfraai en jou skatryk maak.

This entry was posted in Hartsdinge. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s