Eerste liefde

Ek is versot op hom, van my heel eerste onthou af. Hy is ‘n man van beskeie nering, maar beskik oor oneindige wysheid oor al die dinge in die lewe wat werklik saak maak. Waarvan die belangrikste ongetwyfeld is dat hy verstaan hoe die liefde werk. Deur al die jare van my lewe het ek nog nie een dag getwyfel aan sy onvoorwaardelike liefde, aanvaarding en trots nie.

Kleintyd het hy graag kom saam speel wanneer die maters kom kuier het. Bok-in-die-hok en wegkruipertjie in ons welige tuin. Ons het dit laat welgeval, hy was groot pret en het tot vandag toe nog ‘n stuk kind in hom wat graag terg en speel. Hy was die heel geesdriftigste ondersteuner by sportbyeenkomste. Hy was intiem en ten nouste betrokke by ons lewens, soos wat hy vandag steeds by sy dogters, skoonseuns en kleinkinders is. Die beste soort Pa in die wêreld!

Ek was nie ‘n tiener wat deure geklap en goeters gegooi het nie. Ek het my wel soms oorgegee aan ‘n huilbui sonder om eers regtig te weet wat die oorsaak van my verdrietigheid is. Dan het hy langs my kom sit, my rug gevryf en vertroostend gesê: ‘Toe maar, Pa verstaan.’ Daar was treinritte af see toe, strandlangs hardloop en frisbee gooi, mekaar begrawe in seesand totdat net ons koppe uitsteek. Dit vul ‘n skatkis met die mooiste herinneringe.

Ek was in my studentejare met vakansie tuis toe ek hom ‘n keer vra om saam met my te gaan draf. Laat in die drafsessie het hy skielik op ‘n skotige opdraand begin stap. Dit was geweldig onrusbarend vir my – die eerste keer dat ek bewus geword het van die feit dat my held nie onsterflik is nie.

Die groot krisis het ‘n paar jaar later gekom, in die vierde maand van my eerste en enigste swangerskap. Die groot hartaanval het onherstelbare skade aan sy hart aangerig. Die viervat omleidingsoperasie traumaties vir ons almal, die herstelpad lank en moeisaam. Maar tog, hy was steeds net Pa, soos altyd.

Hy is nou oud, beweeg met ‘n skuifelstappie en die kort asem kniehalter soms sy geesdrif om met oorgawe te leef. Maar steeds maak hy ‘n plan en kom met vindingryke idees vorendag om sy leefwêreld te verfraai. Met sy jaarlikse opvolgafspraak by die kardioloog word nog ‘n reël bygevoeg by die bladsy wat reeds van hoek tot kant met chroniese medikasie gevul is. Die jongste byvoeging hou talle risiko’s in en moet met presisie gemonitor word. Dit maak ons almal bang. Maar die alternatief is lewensbedreigend, dus doen hy met lydsaamheid wat gedoen moet word. In hierdie tyd maak hy ook ‘n draai in die hospitaal wat op chirurgie uitloop, en my jammerhart vir hom verviervoudig by die dag.

Ek besef dat my en sy liefdesband na ‘n pynlike einde op pad is. Daar bestaan immers nie regtig iets soos ‘vir altyd saam’ nie. Sy einde sal ‘n lieflike nuwe begin in ‘n hemelse heerlikheid wees. Vir my die begin van die grootste hartseer nóg, die lang wag totdat ek hom weer kan sien. Ek probeer om nie nou al daaraan te dink nie. Dit maak eenvoudig te seer.

Ons pa-dogter verhouding het nou grootliks omgekeer. My heldeverering vir hom het plek gemaak vir ‘n sorgsaamheid, ‘n beskermingsdrang en ‘n teerheid wat soms seermaak. As ek hom maar soos ‘n moederhen onder my vlerk kon wegsteek van enige seer, ongemak en swaarkry.

Dalk is dit soos die kring van liefde werk. Dat die papie van die innige band tussen ons nou, in volle wasdom, in ‘n lieflike skoenlapper verander het.

Dit is ‘n voorreg om in hierdie soort liefde te kan deel. Dit is suiwer vreugde om hom my Pa te kan noem.

Liefde ís vir altd, en daarna.

This entry was posted in Hartsmense, Liefde, Ouerskap. Bookmark the permalink.

1 Response to Eerste liefde

  1. Hoe waardeer ek jou woorde oor jou pa! Want dit help my om my dogter se gevoelens teenoor my te verstaan.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s