Sêdness

‘n Skryfsel uit die donker dae na my liefste pa se heengaan.

Daar is ‘n nuwe intrekker in my huis, my hart, my diepste wese. Sy naam is Sêdness. Hy is uiters onvoorspelbaar, soos ‘n veeleisende kleuter of ‘n minnaar wat onseker is van homself. Hy is besitlik, dominerend, met tye venynig. Ek het nog altyd geweet hy sal iewers weer sy opwagting maak. Die presiese datum en uur vang my elke keer onkant. Maar hier is hy nou. Ek verdra hom, wil hom hier hê, soek sy teenwoordigheid op.

Elkeen van Sêdness se besoeke is anders. Hy gaan nooit op dieselfde manier te werk nie. Hierdie keer is intens. Hy is slinks. Boos. Slaan toe wanneer ek dit nie verwag nie. Dit maak my onseker. Bang om uit die huis te gaan. Wanneer kom die volgende emosionele melt-down? Hy slaan sy kloue om my lyf soos ‘n parasietplant om sy gasheer. Versmorend. ‘n Luislang se kronkelings om sy prooi. Geweldadig. Sonder genade. Hy glip langs die klipharde knop in my keel af. Hamer met sy volle gewig op my hart. Loodswaar. Hy pers die laaste druppel vog uit my oë. Tot die volgende aanslag. Drapeer homself as ‘n swaar, donker kleed om my liggaam. Ek moet gaan sit. Rus. Myself bymekaar probeer hou. Sterk wees, my kind, pleit my pa. Sêdness slaan sy tentakels tot diep in my brein. My gedagtes jaag resies in dieselfde verdoemende paadjies. Oor en oor en sonder ophou. Dit mergel my uit. Ek is moeg. Moeg. Kan ek onder ‘n bos inkruip en net daar bly lê? Sal die rawe my kom help?

Die raaf se naam is Vrede. Hy kruip deur die dorings in die bos. Ek lig my moeë kop en sien hom skrams, maar hy is reeds weer op pad. Hy het iets agtergelaat in die doringbos. ‘n Stukkie heuningkoek en ‘n bekertjie water. ‘n Klein gedagte van sin midde die chaos in my kop. ‘n Kollega wat by my kom sit en my laat praat en praat sonder om weg te deins van die pyn. Sy ken die pad. ‘n Stukkie sjokolade in die hand. ‘n Koevert vol mildelike meelewing. ‘n Boodskap op my selfoon, ‘ek dink aan jou – hoe gaan dit?’, toe al die ander besluit het die ergste is oor die lewe gaan aan. Ek eet die heuningkoek en drink van die water. Word versterk en kruip onder die bos uit. Neem ‘n weifelende treë op die donker en onseker pad waarop ek my teen wil en dank bevind. Die raaf se naam is Hoop.

Van my vriende is veel verder op die pad as ek. Hulle troos en gee raad. Hulle sê ek moet moed hou, Sêdness raak naderhand verveeld met die sadistiese speletjie en gaan soek dan ‘n volgende hart om te vertrap. In sy plek kom Hoop en Vrede. Aanvanklik net in ‘n glims. ‘n Liggie wat skyn in die donker. Algaande al hoe meer. Uiteindelik word jou permanente metgesel ‘n knaap met die naam Aanvaarding. Hy leer jou weer lag en lewe en ander pelgrims help wat vasgeval het op die pad. Sêdness is ‘n beheervraat en kom loer van tyd tot tyd weer in. Hy floreer op Gedenkdae – verjaardag, Kersfees. En Vadersdag. Teen daardie tyd is sy dosis klein en sy besoek kort. Hanteerbaar.

God is aan my kant. My pa leef voort in my deur gene en DNA.

Ek weet. Treur nie soos die wat geen hoop het nie.

Dis net seer. Vir nou is dit seer.

This entry was posted in Hartsmense, Hemellinge. Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar