

Dan is daar die vriendin wat ek tien jaar gelede aan kanker verloor het. Haar oudste dogter stuur elke jaar vir my ‘n Kerswens saam met ‘n foto van haar prag gesin. Dan onthou ek hoe ánders dit geklink het as my vriendin, in die greep van een uitmergelende chemo-sessie op die ander, stil verklaar: SY genade is vir my genoeg.
Nog ‘n vriendin, deesdae woonagtig in die hemel, het, met die geboorte van my dogter, haar raad gedeel. Maak soveel moontlik mense lief vir jou kind. Wanneer háár, nou reeds volwasse, dogter my seën met woorde van liefde en deernis, dink ek elke keer weer aan my vriendin wat ook haar eie raad gevolg het. Want wie liefde uitdeel sal dit ook mildelik ontvang.
Net daar tref ‘n kosbare gedagte my – my geliefdes in die hemel, onbereikbaar ver, is letterlik net ‘n gedagte weg. En deur kosbare herinneringe en baie dae gedeel, het my geliefdes wat my vooruit gegaan het, steeds inspraak en impak in my lewe. Wat ‘n lieflike troosbesef.