Beste van die beste

Pastoor maak nou een Sondag in sy boodskap ‘n stelling wat my tref en bybly. ‘God doen nie wat ek dink die beste vir my is nie, maar wat Hy wéét die beste vir my is.’

Rondom my Pa se dood verlede jaar het ek die waarheid van daardie stelling op ‘n praktiese vlak beleef. My pa het die laaste vier dae van sy aardse lewe in die hospitaal deurgebring. Al wat ék wou hê, is dat hy genoegsaam herstel om uit die hospitaal ontslaan te word en nog ‘n paar jaar saam met sy geliefdes te leef. Verswakte hart en longemfiseem wat hom dikwels benoud en moeg laat voel het, ten spyt. Sal ek ooit die dag vergeet toe hy met albei die ou hande op die kombuistafel druk en sê: as ek tog net kan ásem haal…

Wat die Here wou hê, is om my die mooiste afskeid denkbaar saam met my pappa te gee voordat Hy hom hemel toe neem. ‘n Laaste kuier so kosbaar dat ek dit vir die res van my lewe naby my hart sal koester. Heilige Gees het dit my op die hart gelê om op Goeie Vrydag nagmaal saam met my pappa in die hospitaal te gebruik. Om vir hom te bid en vir ‘n goeie drie uur na sy geselsies te luister. Om, hoewel ek glad nie vermoed het dat die einde naby is nie, te sê dat hy ‘n goeie pappa is. Oor niks in sy lewe spyt hoef te wees nie. Dat ek vir hom lief is. My pa het die volgende middag ‘n hartstilstand gehad en nie weer sy bewussyn herwin nie. Hy is vroeg op OpstandingsSondag Huis toe.

My hart is steeds seer van verlang, maar daarmee saam het ek soveel vrede. Daar het niks ongesê of ongelaat gebly tussen my en my geliefde pappa nie. Ek is die Here so dankbaar daarvoor. Inderdaad het die Here in hierdie geval gedoen wat die beste vir my pappa, en ook vir my is.

God werk so mooi en sag met my in hierdie rou proses, ‘n proses wat ek met tye as vreesaanjaend en wispelturig beleef. Dit is ‘n praktiese geloofbouer en lei daarom tot ‘n kosbare persoonlike geloofsverdieping. En dít, is die genade in die Here se ‘ten goede laat meewerk”. En my liefste pappa wat nou in ‘n ewige hemelse heerlikheid leef, verlos van die krankhede en beperkinge van ‘n aardse liggaam, het inderdaad die beste van die beste deel ontvang.

Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.
ROMEINE 8:28 AFR83

This entry was posted in Geestelik, Hartsmense, Hemellinge, Liefde. Bookmark the permalink.

1 Response to Beste van die beste

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s