Ek stop vir ‘n tenkie brandstof en kyk met ‘n gelate sug hoe die syfers in die honderde-kolom uitgelate bokspring om uiteindelik met ‘n triomfantelike oorwinnaarskreet tot stilstand te kom.
‘Het jy die grappie gehoor van die ou wat sy girlfriend wou uitvat na ‘n duur plek?’, maak ek geselsies met die petroljoggie. Hy skud ontkennend kop en ek vervolg: ‘hy het haar saamgevat toe hy gaan petrol ingooi.’
Hy lag te lekker en besluit om saam te speel. ‘Het jy gehoor van die ou wat petrol ingooi toe jaag hy weg?’ Ek hét gehoor maar skud plegtig kop. ‘Ja, die judge se fine was goedkoper as die tenk petrol!’ Na die saamlag probeer ek ons albei met ‘n ‘Dit sal weer beter gaan’ troos.
Ek kry my bankkaart nader vir die betaalslag en gee sy fooitjie in kontant. ‘Dit was so lekker om jou te sien!’, sê hy soos vir ‘n gewaardeerde vriend, die son van ‘n Afrika opregtheid al glimmend in sy oë. ‘Lekker naweek’, wens ek hom toe en ry met ‘n platter beursie en ‘n voller hart huis toe.
Dit moet swaar wees om ‘n petroljoggie te wees – jy het sy hele dag verhelder.