Eksamen geslaag!

Dit voel of ek ‘n groot eksamen geslaag het. Die kind is toe by die universiteit geregistreer. Hulle aanvaar en verwelkom haar met ope arms. Sy is blink-oog opgewonde oor haar toekoms. En ons as ouers saam met haar. Ons is vol vertroue dat sy elke geleentheid gaan aangryp, oor elke uitdaging sal seil, en dat haar toekoms vol belofte wink.

Wat ‘n heerlike mylpaal in ouerskap.

Ek is seker ek gaan more, dalk selfs vannag nog, weer aan iets nuuts dink om my oor te kwel. As moeder is ek tot my spyt meestal meer van ‘n worry-er as ‘n ‘prayer-warrior’….

Maar vanaand vat ek hierdie oomblikke styf vas. Dit is als genade. Onteenseglik. Maar ouerskap is ook harde en toegewyde werk. Liefde in aksie – oor en oor, en weer en dan nóg ‘n keer. Laatnag se arbeid adel al sleep jou voete en hang jou skouers. Aanmoedig en toejuig wanneer jou eie hart moedeloos en vertwyfeld in loodswaar slae klop.

Vergun my dus vandag die sonderlinge kloppie op die skouer. Knap gedaan, my liewe selwers! Doen so voort – jy weet mos hoe.

This entry was posted in Ouerskap. Bookmark the permalink.

1 Responses to Eksamen geslaag!

  1. Sjoe, ek onthou dan toe sy hoërskool toe is! Kom hou jou skouer vir nog ‘n kloppie, mooi so, mamma!

Lewer kommentaar