Moedersdag

Jy het nie meer ‘n ma nie.

Jy is nog nie ‘n ma nie.

Moedersdag is ‘n seer dag vir jou.

En tog…

Tog weet ek van iemand, dalk meer as een, wat erg moederlik teenoor jou voel.

Tog weet ek van iemand, waarskynlik ‘n hele arsenaal, wat jou ontmoet en in verwondering uitroep:  ‘Sy is net só cóól!!!’    En terstond besluit:   ‘Ek wil soos sy wees’

En ek besef…

Daar is ‘n dogter in jou.

Daar is ‘n moeder in jou.

Soos in elke vrou.

Posted in Hartsmense, Liefde | Lewer kommentaar

Ouerskapsfoute

My dogter is ‘n perfeksionis en baie hard op haarself, veral op akademiese gebied.   Haar standaarde is hemelhoog en sy is selde of ooit tevrede met prestasies.   Sy sal haarself veel eerder kasty oor die gapings as om die suksessse in ‘n vraestel te vier. 

Ek is bevrees dat ek haar, nou reeds ‘n student, so geleer het.

Wanneer my graadjie met haar tien woorde om voor te berei vir ‘n speltoets tuis kom na skool, het ek nie vir haar, of vir myself, rus of duurte gegun voordat elke enkele woord in die lys volmaak gespel is nie.   Die kastyding het natuurlik saans gebeur, wanneer ‘n gespanne voltyds werkende mamma ‘n reeds moeë dogtertjie se huiswerk nagegaan het.

As ek dit vandag moes oordoen, sou ek  by die sewende reg gespelde woord hande klap en speeltyd of storietyd aankondig.   Ek sou vir haar leer dat die standaard sewentig persent is, enige punt wat bo dit verdien word, word gesien as ‘n bonus.  Ek sou dit by haar inskerp dat ‘n gebalanseerde leefstyl baie belangriker is as sukses.   Ek sou haar leer dat gemoedsrus en geluk peperduur is en met versigtige en doelbewuste tydsbesteding bekom word.    Ek sou haar leer dat daar ‘n baie lang lys van dinge is wat oneindig meer weeg as ‘n toets wat volpunte gemerk is.

Ek sou ook twee keer dink wanneer beloning as dryfveer gebruik word.   Vir ‘n sensitiewe kind wat tot angstigheid geneig is, moet ‘n persentasie liefs nie as doelwit gestel word nie.    Uit eie ondervinding weet ek dat ‘n kind soms haar uiterste bes lewer, en steeds nie die verlangde kerf bereik nie – dalk juis omdat sy onder druk voel wat haar so gespanne maak dat sy sukkel om te konsentreer.   Beloon veel eerder harde werk en die goeie karakterseienskappe wat daardeur openbaar word.   As ek my beste gee in terme van voorbereiding en sestig persent behaal vir ‘n toets, vier dit om liefdeswil saam met my.   Want regtig, my beste is heeltemal goed genoeg – altyd!

Ek skuld my kind ‘n verskoning.   Kan ek terugdraai en nou begin om my nuwe insigte as lewenslesse vir haar aan te bied?   Natuurlik!   Dit is ‘n opdraande stryd om reeds vasgelegde gedagtepatrone te verander – maar dit kan gedoen word.   Want raai, ‘n mamma is ook nie volmaak nie, al wil sy  dit hoe graag wees, en mag haarself ook ruimte gun om foute te maak al was die bedoeling goed.   Ek het ook nodig om myself as mamma te vergewe.

Dit is mos maar waaroor genade gaan.

Posted in Ouerskap | Lewer kommentaar

60!

Jy is vandag sestig.   ‘n Gesonde, fikse en jong sestig daarby.   Maar dit was nie altyd die geval nie.

‘n Skrale drie jaar gelede was jy sleg oorgewig, met diabetes wat aanhou eskaleer en chronies so moeg dat jy sommer in ‘n geselskap sou insluimer.  

Midde die Covid inperking ry jy een ooggend apteek toe om jou maandelikse chroniese medikasie te kry.   Jy plak die vyf bokse pille op die kombuistafel neer en sê:  ‘As ek my kind wil sien groot word kan ek nie so aangaan nie’.   Ons loop dr Ken D Berry op Youtube raak en besluit om die Keto eetplan te beproef.    Ons skakel as gesin daarby in.   Goeie gesondheid is mos goed vir almal!   

Jy skud dertig kilogram binne ‘n jaar af en moet jou nommer 42-grootte klere met 34’s vervang.  Jy handhaaf jou nuwe gewig sonder moeite vir die afgelope bykans vier jaar.    Wat ‘n inspirasie!

Stap een is om van al die ongewenste voorraad in my kombuiskaste ontslae te raak.    Dit is  vandag steeds my goue reël, want raai, as ek myself in ‘n pak Simba chips vasloop, eet ek lustig saam, al weet ek my spastiese kolon gaan my later laat les opsê.

Die moeilikste deel was om my kop om die idee te kry dat vet goed is om te eet.   Later sou ek leer dat vet net gevaarlik is as dit in kombinasie met stysel gebruik word.  Brood saam met botter, aartappel met room.   As die stysel egter weggelaat word, omskep die liggaam die vet juis in energie.    Dr Tim Noakes skryf in sy boek dat vroeë geslagte van die land af geleef het, en wat anders is dit as ‘n hoë-vet, lae koolhidraat eetplan.   En toe was vetsug, hartaanvalle en beroertes seldsaam – gereelde inname van regte botter en volroom suiwel ten spyt.   Keto is juis so effektief omdat die hoë vet-inhoud van voedsel ‘n mens ure lank versadig hou, en daar geen behoefte of begeerte is aan peuselhappies soos op ‘n hoë koolhidraat dieet nie.

Die maklikste riglyn is om voedsel slegs in sy natuurlike vorm in te neem.   In die supermark hou ek by die buintenste rakke met proteïn, groente en suiwel.   Ek vermy alles wat in bokse en blikkies kom, want daarmee saam kom smaak, geur en preseveermiddels wat skadelik is vir gesondheid.   Ek gebruik slegs sout, peper, knoffel en kruie as geurmiddels, dit is heilsaam en smaaklik.

Ons kombineer Keto met ‘n daaglikse vastydperk van ten minste sestien ure.   As in gedagte gehou wor dat daar vir die grootste gedeelte van die vastydperk geslaap word, besef jy dat dit baie erger klink as wat dit in werklikheid is.  Dr Mindy Pelz skryf eenvoudig en verstaanbaar oor die gesondheidsvoordele van daagliks vas in haar boek, ‘Fast like a girl’.

My man gaan elke ses maande vir bloedtoetse, dus word die gevolge van ons eetplan deurlopend goed gemonitor.   Van die oorspronklike vyf bokse chroniese pille is daar nou net een boks oor – waarvan die dosis reeds twee maal deur sy dokter halveer is.   My spastiese kolon simptome het verdwyn en ons aandagafleibare kind is oortuig daarvan dat sy beter konsentreer as sy nie suiker inneem nie en streng hou by Keto.   Sy bewys dit deur hard te werk en matriek met drie onderskeidings te slaag.

Ek deel net wat vir my gesin werk.   Elke vrou loop haar eie pad en doen wat sy dink die beste werk vir haar gesin.   Ek weet voor my siel dat my man nie genees is van diabetes nie, dit word slegs maar beheer deur deurlopend goeie leefstylkeuses te maak.

Ek vier my man se sesde dekade in uitstekende lewenskwaliteit met ‘n dankbare hart.   Ons kyk nooit weer terug nie, dit is eenvoudig nie die moeite werd nie.

Posted in Leefstyl | Lewer kommentaar

Eenvormigheid in diversiteit

Die driestuks sit in ‘n groep in die klas, met die doel voor oë om die kuns van Gebaretaal die meester te word.   Twee in die groep is horend, die derde nie.   Een in die groep meer vaardig met die vingers as die ander twee.   Verskillende ras en kultuurgroeperinge word verteenwoordig tussen die drietal.

‘Hoe oud is julle’, vra die vingers sonder klank. Groot is die verbasing toe daar besef word dat al drie dieselfde ouderdom is.   ‘Hou julle van die Winter?’, kom die volgende vraag.   Die vraag bring instemmende konsensus in die groep.   Toe daar uitgevra word oor die redes vir die aanvalligheid van Winter,  word al drie liries oor ‘cuddles’ en snoesige klere en komberse.

‘We are the same!’, roep die nie-horende se vingers opgewonde uit terwyl haar gesig ophelder.   Hoe kosbaar is die oomblik van bewuswording:   daar is eenvormigheid in diversiteit.

Ek beleef dieselfde gewaarwording gereeld by my werk, ook by my kerk.   Ons is só verskillend, en tog het ons sóveel in gemeen.

Eenvormigheid in diversiteit.   Mag ons almal daarna streef.   Mag ons daardie oomblikke raaksien.   Mag ons daardie oomblikke skep.

Posted in Mymeringe | Lewer kommentaar

Toetsdag

By die universiteit word toetse op Saterdae geskryf.     In hierdie geval die juiste Saterdag terwyl die res van die studente, wat nie hierdie bepaalde vak neem nie,  reeds vakansie hou.   Want, Universiteit, sê my net-nou-die-dag-nog ‘n skolier, is nie vir softies nie.

Ek bespeur definitiewe kategorieë van toetsskrywers.  Die baie parates sorg dat hul ‘n halfuur voor die toets begin, reeds aanmeld.   Dan die groot gros, tien minute voor die tyd.   En raai, drupsgewys kom daar steeds studente aangesuiker, oënskynlik rustig en bedaard, tot selfs twintig minute na die aanvang van die uurlange toets.

Party studente kom hand-om-die-lyf al geselsend met maters aangedrentel.   Ander dra oorfone en kyk stip voor hulle op die grond – ‘n onsigbare, maar duidelik waarneembare los-my-uit!   kennisgewing voor die bors.   ‘n Hele klomp stap met notas in die hand, met ‘n laaste desperate poging om die hardnekkige feite in ‘n halstarrige brein te probeer prop.

Ek verkyk my aan die kleredrag van studente wat die eksamenlokaal aandurf.   Daar is studente met fleurige rokkies, en ander met kleefdrag wat in ‘n disko sou tuis voel.   Daar is heelwat wat lyk asof hulle na die vraestel die eksamenstres in die gimnasium gaan afsweet.   En natuurlik volop geklee in die amptelike studente uniform – jeans, T’s en sneakers.

Ek vind die tempo waarteen studente die eksamenlokaal verlaat, ewe interessant.   Die twintig minute merk veroorsaak  ‘n plotselinge verkeersknoop toe die laatkommers en blitsige vroeglopers dieselfde deur probeer gebruik.   Die grootste gros wag hoflikheidshalwe totdat die helfte van die toegelate sestig minte verstryk het.  En ‘n handjievol konsensieuse en versigtige studente sit hulle sit vasberade vir ‘n verdere twintig minute daarna, gedetermineerd om punte uit minute te skep.    

Sterkte en sukses vir elkeen van julle, liewe studente.   Die ambisieuses, die verstrooides,  die onsekeres, die plesierige partytjiediere.   Elkeen van julle is nodig om balans aan die lewe te gee.

Posted in Ligweg | Lewer kommentaar

Pappa

Dit is vandag drie jaar sedert Pappa se Hemeldag.   Die eerste jaar wat iets alles verskriklik.   My hart was gebroke en ek wou verdrink in die rou verlies.  Maar my hart het weer heel geword.  Ek is steeds dankbaar dat die GriefShare kursus wat ek by my kerk gedoen het, my so mooi deur die proses gehelp het.

Drie jaar na Pappa se dood voel hy op ‘n vreemde manier weer naby aan my.   Die liefde wat ons deel en die lewenslesse wat hy my geleer het, inspireer my steeds en ek put krag en bemoediging daaruit.

Pappa het ‘n nederige en eenvoudige lewe geleef.  Hy het nie groot grade behaal of boeke geskryf nie.   Hy het nie oorsee gereis of geboue ontwerp nie.   Hy het elke dag opgedaag vir werk en Sondag was hy saam met sy gesin in die kerk.   Betyds!   Stiptelikheid was belangrik vir Pappa.     Huisgodsdiens gehou elke aand en hande gevat om dankie te sê voor ete.   My sy kinders gespeel en sportwedstryde en prysuitdelings ondersteun.   Getrou aan sy vrou en lief vir tuinmaak.   Hy kon enige plek  in ‘n lushof omtower.   Met ‘n onwankelbare en opregte geloof in sy God geleef.

‘n Gewone,voorspelbare lewe dus.   En dit, weet jy, is heeltemal genoeg.   My pa se lewe het ‘n reuse impak gelaat.   Die sagte vredemaker se leemte is tasbaar en die waarde daarvan word in sy afwesigheid eers werklik besef.   Pappa se nalatenskap is vir ewig in sy geliefdes se harte vas gesement.   Pappa is my rolmodel en inspirasie om vir elke dag my heel beste te gee.   Om lief te bly vir die lewe en dat ouderdom net ‘n nommer is.   ‘Ek sal nooit oud word nie, ek word net groot’, is nou ook my leuse.

Ek is lief vir Pappa en ek mis Pappa.   My pappa bly vir altyd een van my heel gunsteling mense op aarde.

Doen wat jy kan, waar jy is, met wat jy het.   En moenie die klein dingetjies gering skat nie.   Want dit is heeltemal genoeg.     

Posted in Hemellinge, Liefde, Ouerskap | 1 Kommentaar

Goeie Vrydag

Vir die afgelope drie jaar huil ek met elke enkele nagmaalsdiens in my kerk my oë uit. Snot en trane, skouers rukkend. Al is ek ‘n privaat mens wat ongemaklik voel oor ‘n openbare vertoon van emosies.

Drie jaar gelede, op Goeie Vrydag, het ek my pappa vir die heel laaste maal gesien. Hy was in die hospitaal nadat hy twee dae vantevore inmekaar gestort het. Dit was Covid-tyd en net een besoeker is per dag by hom toegelaat.

Siende Goeie Vrydag, het ek brood en druiwesap saamgeneem hospitaal toe. Ek vra vir Pappa of ons saam nagmaal kan gebruik en hy knik instemmend. Toe ek die brood, sap en nagmaalstelletjie uitpak, sê Pappa verwonderd: ‘Kyk waaraan dink jý nou…’

Ek sê van die brood wat Jesus se liggaam voorstel. Pappa knik plegtig en ons gebruik die sakrament. Toe weer van die wyn wat Jesus se bloed voorstel. Pappa knik plegtig en ons gebruik die sakrament. Ek neem Pappa se hand in my eie en bid vir hom.

Vir die volgende bykans drie ure gesels my gewoonlik stillerige pappa onderhoudend. Hy vertel hoe hulle met die pêrrekar terug is koshuis toe Sondagmiddae. Van hoe Ouma brood met suiker en melk gemeng het en gesê het dis hulle tjoklits. ‘En dan éét ons dit’. Van hoe hy en Mamma mekaar by ‘n blind date ontmoet het. By ‘n dans van alle dinge. Die brokkie is vir my nuus. Pappa was nie juis ‘n danser nie. Ok maar valserig gesing. Veral as hy die slag ewe nostalgies lostrek met ‘Trein na Pretoria’. Ek sê dat ek lief is vir hom, dat hy ‘n goeie pa is, en oor niks in sy lewe spyt hoef te wees nie. Afskeidswoorde, besef ek later. Sonder dat ek selfs vaagweg vermoed het dat dit die laaste sien sou wees. Toe ek eindelik aanstaltes maak om te groet, sê Pappa, ‘Ons het nou einlik lekker gesels’. Ek bied aan om die boksie nagmaalsap vir hom te los, maar hy sê, ‘Vat jy dit.   Dit gaan nie oor die sap nie, dis vir die onthou.’   Hy trek die gesigsmasker af vir ‘n soen, maar gedagtig aan die risiko van die ou Covid-spook en sy sukkelende longe, buig ek oor en soen hom op sy voorkop.   Tuis spoel ek die boksie uit en bêre dit in my memoryboks.   Vir die afgelope drie jaar is daardie leë druiwesap boksie een van my kosbaarste besittings.   Dankie vir die geskenk van onthou, liefste Pappa. 

Pappa het die volgende middag die eerste hartstilstand gehad en is op life-support geplaas. Hy is vroeg op Opstanding Sondag weg Hemel toe. Ek het hom nie weer na die Goeie Vrydag kuier gesien nie.

Die eerste jaar met elke keer se nagmaal het my trane uit ‘n amperse ondraaglike verlange gevloei. Nou kom dit uit ‘n plek van dankbare ootmoed. Ek het nie die vaagste gedagte gehad dat die Goeie Vrydag van drie jaar gelede my en Pappa se totsiens sou wees nie. Ek dink ook nie Pappa het geweet nie, hy het niks in daardie rigting laat blyk nie. Maar God…. God het dit in die fynste detail geweet.

Sou ek my laaste dag saam met Pappa kon beplan, sou ek niks anders wou hê nie. Die nagmaal, die hart tot hart gesels. Die rustige, ongejaagde kuier in die hospitaal.

Nagmaal is ‘n herinnering aan Jesus wat Homself aan die kruis vir my sonde geoffer het. Nagmaal is ook ‘n herinnering aan die Volmaakte Vader wat aan my so ‘n kosbare, betekenisvolle afskeid saam met my liefste Pappa as geskenk gegee het.

Dit sal altyd vir my ‘n bewys wees van hoe intiem en intens die Alwetende Heer in my lewe teenwoordig en betrokke is. En as daar nou onweerswolke op die horison van my bestaan saambondel, dan dink ek terug aan die nagmaal op die Goeie Vrydag van drie jaar gelede. Ek put geloof, krag en troos daaruit. Want my God weet van alles en Hy sorg vir my.

1 Cor 11:25 Do this, as often as you drink it, to call me affectionately to remembrance.

Posted in Hartsmense, Hemellinge, Liefde | 2 Kommentaar

Dawid en Goliat

Ek loop al vir meer as drie dekades ‘n nou pad saam met die Here.   Vir my is daar geen ander manier van leef nie.   Geen ander manier van anders wíl leef nie.

Om uit die Bybel te lees is ‘n daaglikse dissipline, so vas en seker as my oggendkoffie en om tande te borsel.   Ek lees die Bybel deur van Genesis tot Openbaring, gewoonlik een bladsy per dag want ek is arm aan tyd.   Maar klein vordering het ‘n kumulatiewe groot effek, want op die manier is ek tans besig om vir die derde keer deur die Bybel as geheel te lees.

Ek is tans besig met 1 Samuel en maak vanoggend die Bybel oop by die oorbekende verhaal van Dawid en Goliat in 1 Samuel 17.  En raai, ek kry heelwat nuwe pitkos en herkou-mateiaal daaruit.   Die Woord van God is inderdaad lewend en kragtig, en relevant deur al die eeue heen.  Hoe kosbaar.

Dawid oortuig koning Saul om hom toe te laat om Goliat  die stryd aan te sê op grond daarvan dat hy ‘n leeu en ‘n beer wat sy skape aangeval het, doodgemaak het.   Hy het die lam, om die waarheid te sê, uit die ondier se kake gered.   Daardie insidente gee Dawid die geloof en vertroue dat God enige vyand in sy hand sal gee.   Deur perspoonlike ervaring is vertroue vir toekomstige situasies in hom ingebou.

God het dus vir Dawid op die weiveld tussen die skape voorberei vir die geveg teen Goliat.   Daar het Dawid nét vir die Here as bondgenoot gehad, en daar het hy geleer dat dit veilig is om op God te vertrou.  Die Here laat hom nie in die steek nie, maar kom op die regte tyd tot sy redding.

Ek dink die Here werk vandag steeds so.   Hy berei ons steeds voor vir Sy groot werk op maniere en in situasie wat op sigwaarde onrelevant lyk.   Hy leer ons steeds juis in moeilike en uitdagende tye dat Hy onvoorwaardelik en volkome daar is vir ons.

Dit geld vir jongelinge wat op die brink van hul lewens staan.   Dit geld ongetwyfeld ook vir gryses en gryswordendes wat járe se insig, dikwels duur bekom deur persoonlike belewenis, kan deel.   En so kan almal saam, as een liggaam, ‘n beter plek van God se wêreld vir Sy mense, gered en tans nog ongered, maak.

Mag dit so wees!

Posted in Geestelik | Lewer kommentaar

‘n Storie van hoop

Sy was in graad R toe die kleuterskool juffrou aanbeveel dat sy saam met die ander kindertjies vir skoolgereedheidstoetse gaan. Nie dat die juffrou eintlik dink iets is fout nie, meer net om seker te maak, jy weet.

So voorgestel, so maak ons toe maar. Ek is stomverbaas oor die arbeidsterapeut se aandagafleibaarheid verslag. Ons besluit op ‘n wag en kyk benadering. Sy vlieg sonder haakplek deur graad een en ek slaak ‘n groot slaag van verligting.

Die graad twee juffrou word ingelig oor die ADD-bevinding. Sy maak ‘n merkie langs die kind se naam op haar register en die moeilikheid begin. Die kind ontwrig haar klas deur elke dag se gehuilery, skryf Juffrou drie maande later op die kwartaalverslag. Die kind moet elke pouse in die klas agterbly omdat sy nie die werk vinnig genoeg van die bord kan afskryf nie. ‘Jy is die domste kind in die skool!’, lewer ‘n klasmaat by ‘n netbaldag haar mening.  Ons haas terug arbeidsterapeut toe waar haar toetse dieselfde ADD uitkoms het. Ons begin met terapie sessies en so kom graad twee darem verby. Graad drie lewer ‘n engel van ‘n juffrou op. Dis sy wat ons aan Bio-link konsentrasie klasse voorstel. Die resultaat is radikaal. Haar gemiddeld styg met twintig persent en vir die res van haar laerskool loopbaan boer sy onder die akademiese top drie in haar graad.

Sy ontvang ‘n akademiese beurs by ‘n goeie hoërskool en presteer goed die eerste drie jaar. Die inperkingsregulasies van die Covid tydperk maak sy merk en in van die vakke word ‘n agterstand later merkbaar. ‘n Besoek of wat aan ‘n sielkundige wat in beroepsvoorligting spesialiseer lei tot ‘n aanpassing in probleemvakke wat nie relevansie tot aanleg en belangstelling areas, sowel as haar beplande studierigting het nie. Sy is onmiddelik terug op die spoor en ontvang akademiese erekleure in haar matriekjaar. Sy slaag matriek met drie onderskeidings en ‘n katspoegie van ‘n gemiddelde lof af.

Die mooi prestasie laat my nie trots nie, maar dankbaar. Ek weet van al die jare wat sy nét so hard gewerk het, maar nie die kriteria vir die prysuitdeling behaal het nie. Ek weet van die jaar in die grondslagfase wat sy saam met nét een ander maatjie in die klas moes agterbly terwyl al die ander graadjies na die saal paradeer is om hul toekennings in ontvangs te neem.

My hart is vol dankbaarheid, want die pad wat sy loop vul haar met deernis teenoor ander wat sukkel. Dit leer haar dat erkenning van prestasie nie vanselfsprekend is nie. Dit hou haar nederig, kop in die wolke, groot drome in die hart, voete stewig geanker op die grond, geloof in haar Skepper wat ompaaie by Sy goeie plan vir haar lewe inbou. Daarin lê groot genade.

Posted in Inspirasie, Liefkind | Lewer kommentaar

Die nesverlaters

Kort na inkloktyd loer die Groot Diereliefhebber blink-oog om my kantoordeur. ‘Hier is ‘n babakatjie onder die karre in die parkeerterrein’, deel sy haar groot nuus. Sy is onmiddelik uit met ‘n bakkie melk. Ons sekuriteitspan het te vertelle dat die katjie van oor die besige pad gekom het. Dat hy dit ongedeerd reggekry het, is ‘n wonderwerk opsigself!

Toe die ander kollegas arriveer, moet hulle opsluit saam met haar na die katjie gaan kyk. En net daar neem Kieter die beste besluit van sy ganse geskatte sewe-week lange aardse bestaan. Hy stap agter die drietal aan terug kantoor toe.

Nou heers daar groot opwinding in die ganse afdeling. Almal wedywer om Kieter vas te hou en te streel. Hy laat hom die aandag met ‘n luide gespin welgeval. In ‘n ommesientjie sorg sy groothartige weldoener vir ‘n keuse tussen sagte kossies of korreltjes, melk of water, en ‘n boks gevul met katsand vir wanneer die natuur roep. En sy selfaangestelde pleegsorg-mamma begin op die daad soek na ‘n geskikte tuiste vir die kleine kattekind.

Sy neem hom teen toemaaktyd saam met haar huis toe, en rapporteer die volgend oggend dat Kieter alreeds sy intrek in sy nuwe tuiste geneem het. Sy nuwe ouers is jongmense wat ‘n paar dae tevore ‘n babakat bekom het, en nou ‘n maatjie vir hom soek. Sy deel ‘n foto van die twee katjies wat langs mekaar lê. Dit was sowaar onse Kieter se gelukkige dag, is almal dit eens.

Kieter se storie laat my dink aan my en vele van my vriendinne se nesverlaters wat nou hul eerste selfstandige treë in die wêreld buite die gekoesterde bestaan van hul ouerhuise gee – in my geval tans darem nog net vir ‘n aantal ure elke dag. Liefste Nesverlater, mag jy ongedeerd oor besige paaie en plekke van risiko en versoeking beweeg. Mag daar altyd ‘n goedhartige weldoener wees om hulp te verleen en leiding en beskerming te bied wanneer jy dit nodig het. En mag elke besluit wat jy neem goeie gevolge hê sodat jy self ook in ‘n goedhartige weldoener kan ontwikkel wat omsien na jou mede-reisigers.

Dankie Heer, dat U na ons grootmens kindertjies bly kyk.

Posted in Liefkind, Ouerskap | 1 Kommentaar