En daarna

Ons stap teen wil en dank aan na die derde herdenking van Pa se weg wees. Ek is heeltemal onkant gevang deur die storm wat dit in my loswoel. Opnuut. Ek worstel en stoei met die ding van die drie jaar.

Die eerste jaar van Pa se weg wees het ons dit elke maand gedenk. Stilgestaan en onthou. Dikwels ‘n paar trane, en soms ‘n hele vloed daarvan, gestort. Na die groot Een-Jaar herdenking is dit nou meer van ‘n jaarlikse gebeurtenis. Behalwe vir Ma. Sy sal nog steeds sê, vandag is Pa twee jaar en drie maande weg, twee jaar en vyf maande, twee jaar en tien maande… Nie dat ons net op gedenkdae van Pa onthou nie. Vanselfsprekend dink ons nog gereeld aan Pa. Soos in amper elke dag se gereeld.

So, dit is vir my vreemd dat die drie jaar vir my so ‘n groot storie is. Pa verjaar mos oor die feestyd. Met Pa se laaste verjaardag het ek so gewroeg daaroor. Ek het geweet almal is in ‘n partytjie stemming en ek wou dit nie demp nie. Maar ek kon nie slaap voordat ek gesê het: ‘Skuus Wêreld, ek weet julle maak nou persente oop en eet ‘n feesmaal en so aan. Maar seblief, wil julle nie net vir ‘n oomblik saam met my onthou van hierdie merkwaardige man wat ons vir baie jare vandag gevier het nie? Seblief Wêreld, help my om nie te vergeet nie?’

Sou dit wees waaroor my wroeging oor die drie jaar gaan? Oor bang wees vir vergeet? Dis nie moontlik nie. Wees maar gerus. Hierdie liefste Pappa het oor ‘n hele leeftyd met soveel oorgawe en opregtheid belê in sy mense se lewens. Konsekwent, dag na dag gebou aan ‘n erfenis van liefde. Spontaan, natuurlik en eenvoudig het dit vir hom gekom. Want so het sy ouers dit vir hom deur hul voorbeeld geleer. Mag sy erfenis aan elke volgende generasie aangegee word.

Drie maande. Drie jaar. Dertig jaar. Ek verlang na jou, my liefste Pappa. My hart is vol liefde, dankbaarheid en trots as ek aan Pappa dink. Dankie vir ‘n voorbeeld wat ek streef om na te volg.

Vir altyd – én daarna.

This entry was posted in Hartsmense, Hemellinge, Liefde. Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar