Die nesverlaters

Kort na inkloktyd loer die Groot Diereliefhebber blink-oog om my kantoordeur. ‘Hier is ‘n babakatjie onder die karre in die parkeerterrein’, deel sy haar groot nuus. Sy is onmiddelik uit met ‘n bakkie melk. Ons sekuriteitspan het te vertelle dat die katjie van oor die besige pad gekom het. Dat hy dit ongedeerd reggekry het, is ‘n wonderwerk opsigself!

Toe die ander kollegas arriveer, moet hulle opsluit saam met haar na die katjie gaan kyk. En net daar neem Kieter die beste besluit van sy ganse geskatte sewe-week lange aardse bestaan. Hy stap agter die drietal aan terug kantoor toe.

Nou heers daar groot opwinding in die ganse afdeling. Almal wedywer om Kieter vas te hou en te streel. Hy laat hom die aandag met ‘n luide gespin welgeval. In ‘n ommesientjie sorg sy groothartige weldoener vir ‘n keuse tussen sagte kossies of korreltjes, melk of water, en ‘n boks gevul met katsand vir wanneer die natuur roep. En sy selfaangestelde pleegsorg-mamma begin op die daad soek na ‘n geskikte tuiste vir die kleine kattekind.

Sy neem hom teen toemaaktyd saam met haar huis toe, en rapporteer die volgend oggend dat Kieter alreeds sy intrek in sy nuwe tuiste geneem het. Sy nuwe ouers is jongmense wat ‘n paar dae tevore ‘n babakat bekom het, en nou ‘n maatjie vir hom soek. Sy deel ‘n foto van die twee katjies wat langs mekaar lê. Dit was sowaar onse Kieter se gelukkige dag, is almal dit eens.

Kieter se storie laat my dink aan my en vele van my vriendinne se nesverlaters wat nou hul eerste selfstandige treë in die wêreld buite die gekoesterde bestaan van hul ouerhuise gee – in my geval tans darem nog net vir ‘n aantal ure elke dag. Liefste Nesverlater, mag jy ongedeerd oor besige paaie en plekke van risiko en versoeking beweeg. Mag daar altyd ‘n goedhartige weldoener wees om hulp te verleen en leiding en beskerming te bied wanneer jy dit nodig het. En mag elke besluit wat jy neem goeie gevolge hê sodat jy self ook in ‘n goedhartige weldoener kan ontwikkel wat omsien na jou mede-reisigers.

Dankie Heer, dat U na ons grootmens kindertjies bly kyk.

This entry was posted in Liefkind, Ouerskap. Bookmark the permalink.

1 Responses to Die nesverlaters

  1. Die twee nuwe katte in ons huis het ook sulke goeie besluite geneem. Hoe mooi is jou wense vir die Nesverlaters!

Lewer kommentaar