My geloof en verhouding met God is my lewens-aar. Hoe ouer ek word, hoe belangriker word my geloof vir my. Dit is vir my opwindend om te beleef dat ek bly leer en groei, nog meér in my vyftigs as in my jonger jare. Ek glo dat, soos in enige ander verhouding, my verhouding met die Here sal vervlak en stagneer as ek nie tyd daaraan spandeer nie. Dus staan ek soggens douvoordag op om tyd aan hierdie immer noodsaaklike verhouding af te staan. Ek lees Bybel, een bladsy elke dag. Ek het ‘n paar jaar gelede begin om die Bybel eenvoudig van Genesis tot Openbaring deur te lees. Van begin tot einde. Op dié manier het ek die Bybel nou al reeds twee maal van hoek tot kant deurgelees. Dis nie te sê enige iemand anders hoef dit so te doen en dat dit die enigste regte manier is nie, maar dit werk vir my. Ek kry só heerlike insig in die Woord as geheel, en het al male sonder tal beleef dat God met my persoonlik en relevant tot ‘n spesifieke kwessie praat in ‘n oggend se bepaalde Bybelbladsy. Daarna journal ek kortliks aan die hand van drie hofies. Waaroor is ek dankbaar, waaroor is ek bekommerd en wil ek oor bid, en waarop kies ek om te fokus. Om terug te blaai en te sien hoe die Here my help en probleme oplos, is oneindig kosbaar. Dit bou my geloof en motiveer my om getrou te bly in my daaglikse tyd saam met my Heer.
My volgende prioriteit is my huwelik. Elke oggend na my persoonlike stiltetyd maak ek koffie, en dan bid ek en my man saam. Dit is baie kosbaar, die gom wat ons saambind en die wenresep van ons gelukkige huwelik van bykans vyf en twintig jaar. Op praktiese vlak: as ek en my man haaks raak, weet albei van ons om die verskil uit te sorteer, more oggend bid ons saam ; ) En belangriker het ek geleer dat, om vir my en saam met my man te bid, die klem nie is dat hý verander nie, maar dat my hart en gesindheid teenoor hom verander, soos hy met my. En dít is weergaloos.
Een van die belangrikste doelwitte in my lewe is om ‘n goeie ma te wees. My enigste kind het onlangs volgens wet ‘n jong volwassene geword wie se stem amptelik tel. Dit is beslis vir my die moeilikste fase in ouerskap tot nog. Om haar doelbewus toe te laat om besluite te neem waarmee ek nie altyd saam stem nie, skryn teen al wat ‘n instink is. Maar as sy nie in die relatiewe veilige omgewing van haar ouerhuis kan vlerke toets nie, gaan sy nie die vaardigeid ontwikkel om haar vrou in die grote wêreld te staan nie. Dus byt ek deesdae gereeld op my tong en sit op my hande om alles nie uit haar hande te gryp en al haar einas dadelik beter te soen nie. Ek kry dit beslis nie altyd reg nie, ek meng steeds ongevraagd in en maak foute. Maar ek probeer bewus bly daarvan dat ek my in ‘n nuwe ouerskapsfase bevind wat aanpassings verg. Wanneer sy haar teen my aanvly vir ‘n geselsie, los ek alles waarmee ek besig is om die oomblik ten volle te beleef. Want tyd het vlerke, in ouerskap dalk meer waar as in enige ander lewensfeer.
My breër familie geniet ook prioriteit in my lewe. Moeder, nou ‘n weduwee, is ‘n belangrike fokuspunt. Ek praat daagliks met haar en gaan kuier op gereelde en bekende grondslag. Niks wat ek vir haar doen is moeite nie, maar ‘n vreugde en voorreg. Uit pynlike ondervinding wèèt ek dat tyd saam met ‘n bejaarde ouer ‘n uurglas is wat uitloop en daarom uitgekoop moet word.
Om myself as deel van my prioriteite te sien, sou vir baie jare nooit eers by my opgekom het nie. Ek was my eie slawedrywer wat aan myself hemelhoë standaarde gestel het. Met tyd het ek geleer dat, as ek nie na my fisiese, geestelike en emosionele menswees omsien nie, al my prioriteite afgeskeep word. Self-care, ‘n voorheen volksvreemde woord, maar wesenlik belangrik. Rus is nie dieselfde as slaap nie. Niksdoen is nie verkwiste tyd nie. Vir my is dit ‘n koppie tee op my stoep. Om ‘n sonsondergang of wolkformasie te bewonder. Te dink, te skryf. Tye van alleenwees. Stilte. Noodsaaklik vir balans en vrede in my binnemens.
Ek default deeadae op ‘nee’, merk ek teenoor my man op. Sosiale bedrywighede put my as introvert uit en geniet beslis nie in my huidige seisoen prioriteit nie. As ek alles vir almal probeer wees, is ek eintlik niks vir niemand. Daarom spandeer ek my tyd, hulpbronne en aandag daar waar dit nou vir my saak maak, waarde het en belangrik is. En dit is goed genoeg.