Goeie Vrydag

Vir die afgelope drie jaar huil ek met elke enkele nagmaalsdiens in my kerk my oë uit. Snot en trane, skouers rukkend. Al is ek ‘n privaat mens wat ongemaklik voel oor ‘n openbare vertoon van emosies.

Drie jaar gelede, op Goeie Vrydag, het ek my pappa vir die heel laaste maal gesien. Hy was in die hospitaal nadat hy twee dae vantevore inmekaar gestort het. Dit was Covid-tyd en net een besoeker is per dag by hom toegelaat.

Siende Goeie Vrydag, het ek brood en druiwesap saamgeneem hospitaal toe. Ek vra vir Pappa of ons saam nagmaal kan gebruik en hy knik instemmend. Toe ek die brood, sap en nagmaalstelletjie uitpak, sê Pappa verwonderd: ‘Kyk waaraan dink jý nou…’

Ek sê van die brood wat Jesus se liggaam voorstel. Pappa knik plegtig en ons gebruik die sakrament. Toe weer van die wyn wat Jesus se bloed voorstel. Pappa knik plegtig en ons gebruik die sakrament. Ek neem Pappa se hand in my eie en bid vir hom.

Vir die volgende bykans drie ure gesels my gewoonlik stillerige pappa onderhoudend. Hy vertel hoe hulle met die pêrrekar terug is koshuis toe Sondagmiddae. Van hoe Ouma brood met suiker en melk gemeng het en gesê het dis hulle tjoklits. ‘En dan éét ons dit’. Van hoe hy en Mamma mekaar by ‘n blind date ontmoet het. By ‘n dans van alle dinge. Die brokkie is vir my nuus. Pappa was nie juis ‘n danser nie. Ok maar valserig gesing. Veral as hy die slag ewe nostalgies lostrek met ‘Trein na Pretoria’. Ek sê dat ek lief is vir hom, dat hy ‘n goeie pa is, en oor niks in sy lewe spyt hoef te wees nie. Afskeidswoorde, besef ek later. Sonder dat ek selfs vaagweg vermoed het dat dit die laaste sien sou wees. Toe ek eindelik aanstaltes maak om te groet, sê Pappa, ‘Ons het nou einlik lekker gesels’. Ek bied aan om die boksie nagmaalsap vir hom te los, maar hy sê, ‘Vat jy dit.   Dit gaan nie oor die sap nie, dis vir die onthou.’   Hy trek die gesigsmasker af vir ‘n soen, maar gedagtig aan die risiko van die ou Covid-spook en sy sukkelende longe, buig ek oor en soen hom op sy voorkop.   Tuis spoel ek die boksie uit en bêre dit in my memoryboks.   Vir die afgelope drie jaar is daardie leë druiwesap boksie een van my kosbaarste besittings.   Dankie vir die geskenk van onthou, liefste Pappa. 

Pappa het die volgende middag die eerste hartstilstand gehad en is op life-support geplaas. Hy is vroeg op Opstanding Sondag weg Hemel toe. Ek het hom nie weer na die Goeie Vrydag kuier gesien nie.

Die eerste jaar met elke keer se nagmaal het my trane uit ‘n amperse ondraaglike verlange gevloei. Nou kom dit uit ‘n plek van dankbare ootmoed. Ek het nie die vaagste gedagte gehad dat die Goeie Vrydag van drie jaar gelede my en Pappa se totsiens sou wees nie. Ek dink ook nie Pappa het geweet nie, hy het niks in daardie rigting laat blyk nie. Maar God…. God het dit in die fynste detail geweet.

Sou ek my laaste dag saam met Pappa kon beplan, sou ek niks anders wou hê nie. Die nagmaal, die hart tot hart gesels. Die rustige, ongejaagde kuier in die hospitaal.

Nagmaal is ‘n herinnering aan Jesus wat Homself aan die kruis vir my sonde geoffer het. Nagmaal is ook ‘n herinnering aan die Volmaakte Vader wat aan my so ‘n kosbare, betekenisvolle afskeid saam met my liefste Pappa as geskenk gegee het.

Dit sal altyd vir my ‘n bewys wees van hoe intiem en intens die Alwetende Heer in my lewe teenwoordig en betrokke is. En as daar nou onweerswolke op die horison van my bestaan saambondel, dan dink ek terug aan die nagmaal op die Goeie Vrydag van drie jaar gelede. Ek put geloof, krag en troos daaruit. Want my God weet van alles en Hy sorg vir my.

1 Cor 11:25 Do this, as often as you drink it, to call me affectionately to remembrance.

This entry was posted in Hartsmense, Hemellinge, Liefde. Bookmark the permalink.

2 Responses to Goeie Vrydag

  1. Toortsie sê:

    Amen, amen, amen. Wat ‘n wonderlike herinnering.
    God ís betrokke by ons elkedagse bestaan.
    Weet jy, my pa is vandag 25 jaar gelede oorlede. Dit was nie daardie dag Goeie Vrydag nie, maar vanjaar val dit op Goeie Vrydag.

  2. Positief sê:

    Wat ‘n kosbaarheid wat jy met ons deel. Met trane in my oë meer as ‘n week later, sê ek dankie

Lewer kommentaar