Pappa

Dit is vandag drie jaar sedert Pappa se Hemeldag.   Die eerste jaar wat iets alles verskriklik.   My hart was gebroke en ek wou verdrink in die rou verlies.  Maar my hart het weer heel geword.  Ek is steeds dankbaar dat die GriefShare kursus wat ek by my kerk gedoen het, my so mooi deur die proses gehelp het.

Drie jaar na Pappa se dood voel hy op ‘n vreemde manier weer naby aan my.   Die liefde wat ons deel en die lewenslesse wat hy my geleer het, inspireer my steeds en ek put krag en bemoediging daaruit.

Pappa het ‘n nederige en eenvoudige lewe geleef.  Hy het nie groot grade behaal of boeke geskryf nie.   Hy het nie oorsee gereis of geboue ontwerp nie.   Hy het elke dag opgedaag vir werk en Sondag was hy saam met sy gesin in die kerk.   Betyds!   Stiptelikheid was belangrik vir Pappa.     Huisgodsdiens gehou elke aand en hande gevat om dankie te sê voor ete.   My sy kinders gespeel en sportwedstryde en prysuitdelings ondersteun.   Getrou aan sy vrou en lief vir tuinmaak.   Hy kon enige plek  in ‘n lushof omtower.   Met ‘n onwankelbare en opregte geloof in sy God geleef.

‘n Gewone,voorspelbare lewe dus.   En dit, weet jy, is heeltemal genoeg.   My pa se lewe het ‘n reuse impak gelaat.   Die sagte vredemaker se leemte is tasbaar en die waarde daarvan word in sy afwesigheid eers werklik besef.   Pappa se nalatenskap is vir ewig in sy geliefdes se harte vas gesement.   Pappa is my rolmodel en inspirasie om vir elke dag my heel beste te gee.   Om lief te bly vir die lewe en dat ouderdom net ‘n nommer is.   ‘Ek sal nooit oud word nie, ek word net groot’, is nou ook my leuse.

Ek is lief vir Pappa en ek mis Pappa.   My pappa bly vir altyd een van my heel gunsteling mense op aarde.

Doen wat jy kan, waar jy is, met wat jy het.   En moenie die klein dingetjies gering skat nie.   Want dit is heeltemal genoeg.     

This entry was posted in Hemellinge, Liefde, Ouerskap. Bookmark the permalink.

1 Responses to Pappa

  1. Jy skryf so mooi oor jou pa – ek lees graag elke woord, en dan dink ek aan my eie pappa, vir wie ek net so lief was/is soos jy vir joune.

Lewer kommentaar