Moed vir koue voete

Ek het die slegte gewoonte om nogal maklik angstig te word. Ek vermoed die oorsprong daarvan het meer te doen met die vinnige lewenstempo van ‘n voltyds-werkende ma, as dat ‘n spesifieke kwessie die antstigheid veroorsaak. Hoe dit ook al sy, toe ek onlangs in CUM die outeur Jentezen Franklik se boek, ‘Fear Fighters’, raaksien, boonop op ‘n spesiale aanbieding, het ek dit summier gekoop.

Sommer vroeg in die boek, skryf die outeur oor die onderwerp, ‘Cold-feet courage’, wat ek vir die doel van hierdie skrywe sal vertaal as ‘Moed vir koue voete’. Die idee word gebasseer op 2 Samuel 23:20
‘Verder Benàja, die seun van Jòjada, ‘n sterk man, groot van daad, uit Kàbseël; hy het die twee groot helde van Moabi verslaan; en hy het afgegaan en ‘n leeu binne-in ‘n kuil doodgeslaan op ‘n sneeudag.

Franklin speel met die koue-voete metafoor. Enersyds het die sneeu onder in ‘n put waarskynlik vir fisiese koue voete gesorg, maar kyk, om in ‘n put af te klim en te weet dat ‘n leeu aan die onderkant daarvan vir jou wag, sal sekerlik selfs vir die dapperste vegter koue rillings gee. En in die proses laat stry teen die spreekwoordelike koue voete – die impuls om tou op te gee as gevolg van vrees vir ‘n spesifieke optrede of aksie.

Franklin skryf voorts dat moed net nodig is in ‘n situasie wat vrees veroorsaak. As ek nie bang is vir ‘n ding nie, dan doen ek hom eenvoudig, sonder om te dink of ek die moed daarvoor het, al dan nie. In my prille jeug het ek op ‘n keer die Tsitsikamma staproete met ‘n toentertydse romantiese aanhangsel, en ‘n spul van sy pelle, op daardie stadium onbekend aan my, aangedurf. Die eerste paar dae was fantasties, die natuurskoon was so verruklik dat ek heeltemal van my moeë en seer voete vergeet het. Dit het egter baie gereën gedurende die staptoer, sodat daar oor een weer gegrap is daaroor: ‘Wat sal ek tog nou vandag aantrek – my groen nat t-hemp, of my blou nat t-hemp’. Maar die gees wat goed, ons was jonk en avontuurlustig, en nie eers die voortdurende nattigheid kon die atmosfeer in die groep demp nie. Op die vierde dag was ons veronderstel om deur ‘n stroompie op die roete te loop. Die enigste probleem was dat die stroompie nou, as gevolg van al die reën hoër op in die berg, ‘n wildvloeiende, bruisende rivier was. Vir lopende water is ek van altyd af baie bang. Die liefie-van-ouds het aangebied dat ek en hy die ‘evacuation’-roete kan neem, ‘n vaal en vervelige grondpad wat op ‘n bosbouhuisie uitloop, waarna ons per voertuig na die volgende oornaghut, en die res van die groep, geneem sal word. Ek het besef my kêrel brand om die res van die avontuur saam met sy maters mee te maak, en dat ek my vrees vir lopende water in die gesig sal moet staar. Die einde van die saak is dat die manne in die groep beurte gemaak het om, met my soos ‘n klouende apie op die rug, met toue deur die river te gaan. Veilig aan die oorkant het ek vreeslik verleë en pleinweg simpel gevoel, maar die spanleier het plegtig my hand kom skud, en my verseker dat dit die dapperste ding is wat hy enigiemand nog ooit sien doen het.

Vandag besef ek wat hy bedoel het. Ek het moed vir koue voete iewers vandaan gekry, en gedoen wat gedoen moes word. Franklin skryf in sy boek, dat die ‘Fear Fighters’ wat ons in elke situasie nodig het, in die Woord van God sal vind. Daar word gesê dat die Bybel ‘n ‘Moenie bang wees nie…’, belofte vir elke dag van die jaar bevat. Dis ‘n heerlike, praktiese gerusstelling, vir koue-voete dae, maar ook vir elke gewone dag wat ek in dolle jaag my pad moet vind en my gang moet gaan.

This entry was posted in Geestelik. Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar