Paasfees gaan oor Jesus se kruisdood wat ons met God versoen en só die ewige lewe vir ons verseker.
Die afgelope jaar het Paasfees vir my ‘n ander spesiale betekenis bygekry. Ek het my liewe pappa verlede jaar vir die laaste keer op Goeie Vrydag gesien. Ek het brood en druiwesap saamgeneem hospitaal toe. Ek het vir my pappa nagmaal bedien en toe hardop vir hom gebid. Daarna het ons só lekker gesels. Nie ek, en ek dink ook nie my pappa nie, het geweet dat dit ons laaste saamkuier sou wees.
Toe dit tyd word om huiswaarts te keer, vra ek vir pappa of ek die boksie druiwesap vir hom kan los om later te drink. ‘Nee, vat jy dit, my ou kind. Dit gaan nie oor die boksie nie, dit gaan oor die onthou’, antwoord pappa. Ek het die laaste druiwesap in die motor gedrink, die boksie tuis uitgespoel en in my memory-boks gebêre.
Jesus het my pappa vroeg op OpstandingSondag hemel toe kom haal. Daardie Goeie Vrydag nagmaal en hospitaalkuier sal vir die res van my lewe een van my heel kosbaarste herinneringe aan my pappalief bly.
